Son, maan en sterre
Kan jy onthou waar jy net na 07:00 op 4 Desember 2003 was?
Van ons jonger lesers was dalk nog nie eens gebore nie, om nie eens van my eie kinders te praat nie!
Ek kan daardie datum onthou omdat ons van Windhoek tot in die hart van die destydse Caprivi, nou Zambezistreek, na Kongola gery het om ’n totale sonsverduistering te gaan kyk. En was dit nie ongelooflik nie! Die wolke het ons bietjie bekommerd gemaak, maar op die ou einde het dit verdwyn net toe die verduistering op sy mooiste was.
Ek kan verstaan hoe mense honderde kilometer en selfs regoor die wêreld sal reis om vir minder as ’n paar minute hierdie natuurlike fenomeen te beleef.
Gister het meer as ’n miljoen mense in Mexiko, Noord-Amerika en gedeeltes van Kanada ook die kans gekry om dit eerstehands te beleef.
Een van die aspekte wat die sonsverduistering van ander onderskei het, was dat die totaliteit – die tydperk wanneer die maan die son heeltemal verduister – ’n indrukwekkende vier minute en 28 sekondes geduur het. Dis redelik lank in vergelyking met ander sonsverduisterings.
Dis natuurlik nie net amateur sterrekykers of “eclipse chasers” wat half-verslaaf daaraan raak nie; daar is sommer heelwat mense wat dit hulle missie in die lewe maak om soveel verduisterings – ook van die maan – self te beleef.
As ek terugdink aan daardie dag in 2003, onthou ek hoe die temperatuur bietjie gedaal het (dit was immers nog vroegoggend ook!), hoe alles om ons stil geraak het, en hoe vreemd dit gevoel het. Dit was nie donker nie, maar ook nie lig nie; net ’n dowwe oranje, rooierige skynsel op die horison na alle kante toe. Toe skielik is die son heeltemal weg en ons kon die “ring of light” of “corona” (nie die siekte nie!) in sy volle glorie beleef, en dit was ongelooflik!
’n Sonsverduistering gebeur wanneer die maan presies tussen die aarde en die son is, maar ook net vir ’n paar minute en op spesifieke plekke.
Wat sonsverduisterings spesiaal maak, is dat dit eintlik relatief min gebeur; dalk drie of vier keer in ’n dekade, en dan is baie daarvan oor die oseaan of by die pole waar min mense dit kan sien.
Gister se verduistering was uniek omdat dit oor groot dele van Noord-Amerika en swaar bevolkte gebiede beweeg het, so meer mense kon dit beleef.
Om dit self te beleef laat mens net weer besef hoe wonderlik die heelal en skepping is. Terwyl ons in ’n gejaagde era leef, is daar natuurlike gebeure soos hierdie wat jou vir ’n oomblik laat stilstaan en jou laat nadink oor hoe klein ons eintlik is as daar na die groter prentjie gekyk word.
Die volgende totale sonsverduistering is in Augustus 2026 in Europa en vir ons Namibiërs, wanneer Windhoek in die “centre line” is, is dit 25 November 2030. Maar ons gaan ook vroeg buite moet wees, want die volle verduistering is 07:20 daardie oggend, en ons gaan moet tevrede wees met ’n totale verduistering van net minder as twee minute.
Daar is darem intussen ’n maansverduistering op 7 September 2025. Hoewel nog steeds besonders, is dit nie naastenby so indrukwekkend soos ’n sonsverduistering nie.
Teken maar solank die datum aan. – [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie