Sonryp perskes
Gerhardus van Grootfontein – Iets wat ek baie geniet om in Dalian te woon, is die toegang tot baie bekostigbare vars vrugte.
Seisoenale vrugte word in hul hordes op die straat by stalletjies, in trokkies en op kartonne verkoop. Gedurende die lente is vars swart, rooi, pers en geel kersies beskikbaar. Daarna volg waatlemoen en gedurende die hoogsomer is die omgewing ekstra sonnig met geel, oranje en rooi-pienk perskes. In my laat dertigs het ek ’n ou liefde herontdek: die unieke, soet en stroperige vlees van die perske.
Toe ek ’n kind was, het ons ’n perskeboom in ons erf gehad. Die krom, growwe takke was ’n aanloklike speelplek. Gedurende die draseisoen, was die sonryp vrugte ’n beloning vir boomklim en knieëskraap. Wanneer ek vandag terugdink aan my tyd in die takke van die perskeboom dink ek aan Amanda Strydom se liedjie “Die Plukker”. Die hele lied besing die reis van die plukker wat sy trapleer van die grond tot in die hemel klim. Daar vind die plukker ’n perske wat hy pluk en met die mense op aarde deel. Alhoewel ons perskeboom nie tot in die hemel gestrek het nie, was die vrug hoog in die takke ’n belofte en ’n vergoeding van die natuur.
Amanda Strydom se hemelse perske laat dink my aan die perskes in die Chinese literêre werk “Die Reis na die Weste”. In hierdie teks begin ’n kosmiese oorlog omdat die aapkoning (bekend as Monkey King) al die perskes in die hemelse boord opgeëet het. In Chinese tradisie en volksverhale verteenwoordig perskes die ewige lewe. Dit word ook geassosieer met ouderdom, voorspoed en wysheid. Ons kan dit sien in ou kuns waar die filosoof Laozi in antieke skilderye soms met ’n perske uitgebeeld word. Laozi is ’n baie prominente geskiedkundige figuur in Chinese tradisie en kultuur. Parallel tot hierdie eeueoue figuur, los perskes ook hulle merk duisende jare gelede in Chinese geskiedenis. Perskes is oorspronklik van China af en argeologiese toetse plaas hierdie vrugte 7 000 jaar gelede as deel van die mens se eetgewoontes.
Die Spaanse seevaarders het die perskes na die Nuwe Wêreld geneem en in die 1600’s word die perske vir die eerste keer in Mexiko gevind.
Perskes is vir eeue daarna net in die tuine van adelikes gekweek tot die VSA met massaverskaffing in die 19de eeu begin het. So het perskes in allerlei kosse en resepte begin verskyn. Tot vandag toe is ingelegde perskes baie gewild onder Chinese. Hulle glo veral dat dit goed is om te eet wanneer jy verkoue of griep het. Gedurende Covid was die ingelegde perskes so skaars soos medikasie in apteke.
Perskes is baie gesond. Dit is onder andere ryk in vesel asook vitamien A en C. Verder beveg dit cholesterol en kan help met inflammasie. Navorsers verneem dat die bioaktiewe samestellings in perskes diabetes en hartversaking kan voorkom. Perskes is baie laag in kalorieë, so dit is werklik ’n lekker en baie gesonde peuselhappie.
Twee gemiddelde perskes hou dieselfde hoeveelheid kalorieë in as twee snytjies droë brood. Smeer ’n bietjie botter op, en jy is by vyf. Maar, in Namibië is ’n botterbroodjie baie goedkoper as ’n perske. Jy moet ’n arm en ’n been afstaan vir vier perskes. In die platteland moet jy jou lewer ook opdok.
Ons eetgewoontes in Namibië is alles behalwe gesond – en gesonde eetgewoontes is peperduur. Ja, ons kan trots wees op ons vleis, bier en brötchens – dit is deel van ons kulturele identiteit. Maar, kan ons nie beter doen in die groente- en -vrugte-afdeling nie?
Om terug te keer na die aarde sal nie net goed wees vir die omgewing nie, maar ook vir gesondheid en goedkoper as ingevoerde produksie.
Wanneer ek weer op Grootfontein is, plant ek ’n perskeboom!
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie