Sosiale media
Hester Sê MAAR NET
So ’n rukkie gelede sit en gesels ek met ’n vriendin, en ek kon sien die lewe het swaar op haar skouers kom lê. Sy het haar koffie eenkant toe geskuif en die kommerlyne het diep oor haar voorkop geplooi. Sy het moedeloos gesug en gesê sy weet nie weet wat sy verkeerd doen nie, maar haar dinge loop nie so mooi afdraande nie. Meestal nie eens gelykpad nie. Sy het vertel sy sukkel om haar besigheid aan die gang te hou, haar kinders trap maar kort-kort die smal weg mis en sy laat val te gereeld een van die balle wat sy in die lug probeer hou. Sy het gesê sy sukkel, en dit lyk dan vir haar asof dit net sý is wat so sukkel. Sy vertel toe sy sien op Facebook hoe goed dit met haar familie, haar vriende, ou skoolmaats en kennisse gaan. Almal se eendjies stap so pragtig in hulle geordende rye, terwyl sy ganse en eende en afkop-hoenders het wat die vlak vol hol en raas en oral en op alles bloei en mis. Maar oral sien sy net breë glimlagte en seevakansies en kinders wat met pryse en trofees pronk. Hoe het haar pad dan meer bulte en draaie as ander s’n?
Ek het haar koffie teruggeskuif tot by haar regterhand en haar verseker dis nie so eenvoudig soos dit lyk nie. Dis net ’n illusie. Mense op sosiale media wys net vir jou wat hulle wil hê jy moet sien. En as hulle nie wil hê jy moet weet nie, sal jy nie weet nie. Niemand wys hoe dit regtig daar in hulle binnekamers gaan nie. Die foto’s en plasings word baie selektief gekies om vir ander ’n oomblik van perfeksie, geluk en sukses te wys. ’n Enkele hoogtepunt in ’n oseaan van laagtepunte. ’n Mens kies wat jy vir die wêreld wys, maar almal moes deur donker dale strompel om af en toe bo te kom vir ’n oomblikkie in die son, al is dit met nerfaf knieë en blou toonnaels en blase op hulle hakke. Hulle wys vir jou ’n foto van laggende kinders wat graad vang en ouers wat breëbors saam met die kinders pronk, maar jy weet nie van die bloed, sweet en trane wat gevloei het voor hulle by daardie foto uitgekom het nie. Of wat hulle alles moes prysgee vir daardie tien dae by die see nie. Hulle wys nie hulle swaarkry en opofferings nie. Hulle wys nie hoe hulle snags wakker gelê en wroeg het nie, of hoe blou hulle knieë gebid is nie. Ook nie al die gesmeek, onderhandelinge, motivering en dreigemente nie. Hulle wys niks van hoeveel deure toegeklap is of hoe hulle soms op mekaar geskree het nie. Jy sien nie wat hulle opgegee en ingesit het nie. Niemand se lewe is so perfek soos dit op sosiale media lyk nie.
En dis ’n goeie ding, want dit laat jou jou kop optel en laat beur jou voort, want wanneer jy sien ander kon dit maak, glo jy jy kan ook. Dan probeer jy weer harder en bid dringerder en werk langer. En so – tussen die gesukkel deur – kry jy ook ’n sonstraaltjie wat vir ’n oomblik of twee op jou kop skyn, en dan neem ons ’n foto en ons deel dit met ons mense, want dis lekker om te wys jy is nog hier, en jy stry die stryd en soms wen jy selfs.
En die lekkerste deel van sosiale media is, wanneer hulle vir jou ’n herinnering stuur van vyf of agt of tien jaar terug, dan glimlag jy, want dan onthou jy daardie perfekte oomblik in tyd. En terwyl jy so na die foto sit en kyk, onthou jy niks van die swaarkry nie. Jy onthou net die goeie en lekkerte van daardie oomblik.
En toe drink ons nog ’n koffie en gesels oor hoe goed dit eintlik gaan, al gaan dit soms nie goed nie.
- Gasskrywer
[email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie