Spoelklippie
Hester Steenkamp – Die klip lê op my lessenaar se hoek waar ek daagliks sit en lees en skryf en dink en droom. Dis soos ’n kleinood waaraan ek soms vashou wanneer my woorde wil wegraak. Of soms sommer net opdroog.
Hierdie storie het eintlik as ’n gedig begin, maar die ou klippie vang elke dag my oog en toe besluit ek dat hy ook sy eie storie verdien.
Dis net ’n klip, maar vir my is dit ’n baie spesiale een. Ek tap energie en krag uit hom, en ek onthou nie net die dag toe ons paaie gekruis het soos gister nie, ek onthou presies hoe ek daardie dag gevóél het.
Ons het, soos dikwels in die verlede, in die woestyn rondgeloop en het die grootsheid weer eens intens beleef. Die Namib loop dik en warm in my are en dis ’n plek waarvandaan ek elke keer as méér terugkom.
My liefde vir die woestyn het my pa in my gekweek, al van my eerste dae af. My respek vir die Namib is diep en opreg. My liefde suiwer.
Die woestyn vul my met nederigheid en dankbaarheid. Daardie leegheid wat mens tog so vol kan maak, verras my telkens.
Die skynbare doodsheid wat soveel lewe huisves, betower my. Die skoonheid en oopheid en stilte kom lê my hele binneste vol. Dit dreun dawerend deur my.
Die Namib het ’n polsslag wat hoorbaar klop as jy mooi luister en dit slaan jou asem weg as jy so kwesbaar, maar tog so veilig, ’n wyle daar kan vertoef. Dis heilig. Die voorreg om daar te kan wees, oorweldig my elke keer. En dit vereis geduld en kalmte. As jy haastig is, hou eerder maar verby.
Ek het daardie dag afgedwaal en na klippe geloop en kyk, want hulle bekoor my. Dit was so van kindertyd af. ’n Klip vang altyd my oog. Ek het ’n spierwit klippie gesien en gebuk om dit op te tel, maar toe ek my hand uitsteek, het my vingers byna onwillekeurig om ’n grys een toegevou. ’n Vale met dowwe spikkels.
Dit was ’n vreemde gevoel wat oor my gekom het. Asof iets van my besit geneem het. Amper asof my hand self besluit het watter een om op te tel.
Die klippie het bykans gewigloos in my hand gevoel, maar het swaar in my sak gelê toe ek dit daar laat inglip om saam met my te neem.
Dit het soos bestemming gevoel elke keer as ek bewus raak van die gewig in my sak. Ek het met droë oë na die leë horison gekyk en alles ingeneem. Ek het die woestyn gehoor, gevoel, geproe en geruik. Soos elke keer wat ek daar is.
Dis maar wat die Namib aan jou doen. Dit verander jou. Dit verskerp jou sintuie en laat voel jou verskillende goed op dieselfde tyd – groot en klein, bang en braaf, verlore en tog so gekoester.
Ek tel dikwels die klippie op en verbasend genoeg voel dit dan sag op die palm van my hand. Dan vryf ek die stowwerigheid van die gladde grys lyf af en wonder ek oor die klip se komvandaan. Ek wonder oor sy oorsprong en sy ouderdom. En ek wonder veral waar al die water heen is wat sy skerp hoeke en kante so sorgvuldig afgeslyt het en hom geslyp het tot ’n perfekte ovaal. Dis ’n spoelklip in die woestyn. Die kontras is bykans skokkend.
Die water wat hierdie klip gerol, gegooi en geslaan het en deur die prosesse soos slytasie gesit het om dit so netjies glad te maak, is lankal weg. Dan dink ek aan die lewe wat ons ook rondgooi en stampe en stote gee en wonde toedien om ons te vorm en af te breek sodat ons weer hervorm kan word. Daar is geen groei sonder lyding nie.
Dan vou ek my vingers toe om die klip en wens ek uit my hart dat ek ook soos ’n spoelklip sal wees wat al my skerp kante so sonder letsel of verwyt kan verloor, maar steeds volwaardig klip (mens) kan wees.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie