Stappe tot selfvertroue
My ma het een keer vir my gesê jy kan met selfvertroue ’n bank beroof. Ek wonder of sy ooit op ‘n stil Sondagmiddag minderwaardig gevoel het, want as sy eers haar rooi lippies opgesit het, moes die berge vir Salomie van der Walt opsy skuif.
Ek dink ná ‘n ouer se dood soek almal in hul siele vir die oorblyfsels van hul geliefdes. Maar hoe harder ek gesoek het na my ma in die wêreld waarin sy my agtergelaat het, hoe meer was die rokke wat sy gemaak het net lap en die lipstiffie wat sy gedra het net pigment.
Ek het meer as drie jaar ná haar dood ‘n regte egte stukkie van my ma gevind. Ek het haar onthou toe ek my asem moes ophou en selfvertroue – wat ek nie gehad het nie – iewers moes uitgrawe.
“Speel ‘n karakter, Iréne – maak asof jy mamma is,” en skielik kom die selfvertroue na vore.
Ons almal wil hê dat ons geliefdes se nagedagtenis iets vir die wêreld moet beteken.
Baie van ons maak dit ons verantwoordelikheid om dit oor te dra. My ma het gedink daar is niks so vervelig soos iemand wat hul identiteit in iemand anders probeer vind nie. Daarom het sy gepleit dat ons haar – wanneer sy nie meer hier is nie – in die verlede los.
Ek weet nie of sy besef het hoe rebels haar dogter is nie, maar hierdie opdrag is beslis een wat ek nie van plan was om na te kom nie.
My ma was baie dinge, maar sy word steeds onthou vir haar selfvertroue en sonder twyfel kan ek sê daardie selfvertroue is die beste geskenk wat ek ooit kon ontvang het.
“My kind, mense is heeltemal te obsessief oor hulself om te veel oor jou bekommerd te wees. Jy moet darem baie spesiaal wees om ruimte in iemand se brein op te neem wanneer jy nie daar is nie,” troos my ma toe ek bloos oor ‘n kol op my hemp wat ek eers aan die einde van die dag raakgesien het.
Ek wonder soms waar my ma aan al haar “those who mind don’t matter and those who matter don’t mind” raad gekom het. Ek glo steeds vas daar is iewers ‘n blog wat sy in die geheim gelees het, want dit kon nie alles van haar af gekom het nie. Een mens kan net soveel oorspronklike gedagtes hê.
Die beste raad wat ek ooit van my ma af gekry het, het ek eers geglo toe ‘n sielkundige dit jare later vir my voorskryf – doen elke dag iets laf.
Maak ‘n punt om elke dag uit jou gemaksone te kom – doen enigiets wat jy nooit sou doen nie. Spring op die beddens, hou ‘n modeparade vir jou troeteldiere, vertel ‘n flou grappie vir jou kollega of – my persoonlike gunsteling – gee ‘n kompliment vir ‘n vreemdeling.
Hoe meer jy buite die lyne begin beweeg, hoe meer kom jy agter dat die enigste ware doel in die lewe is om jouself te geniet en dat hierdie genot meer tot ‘n gehaltelewe gaan bydra as ander se opinies oor jou.
My ma het altyd vir my gesê jy moet nie op boelies reageer nie, want die reaksie lok hulle uit. Mense is gierige gediertes en hoe meer mag jy vir hulle oor jou lewe gee, hoe meer mag wil hulle hê.
Popsangeres Taylor Swift is die versinnebeeld hiervan. Sy is verskriklik trots op die feit dat sy uitgevind het mense gaan nooit tevrede met ‘n ander wees nie, deur te spring wanneer die keyboard warriors so sê nie.
Vir dekades het sy gemaak soos almal sê, maar het slegs meer kritiek uitgelok. Wat het sy verwag? Dat sy van haarself ‘n marionet gaan maak en niemand beheer van die poppekasvertoning gaan neem nie?
Neem jou lewe in jou eie hande en kyk hoe die selfvertroue volg.
Al begin jy agter toe deure, wees braaf genoeg om jouself te wees. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie