No Image Caption

Stapstories

Gerhardus van Grootfontein – Die een ding wat vir my uitstaan in Windhoek is hoe die natuur vervleg is met die stad. Dit is wonderlik dat ’n mens toegang het tot die koppies, doringbome en selfs ’n aalwyn wat op sommige plekke natuurlik pronk. Dalian, waar ek tans woon, bied dit ook. Ek geniet dit veral om die natuur saam met vriende te verken. Die natuurlike omgewing bring outomaties ’n dieper en meer geestelike dinamika in die verhoudings van vriendskappe uit.

Jade, ’n Chinese vriendin van ’n suidelike stad in China, kom kuier vir my. Sy is ’n Boeddhis wat menige berge na tempels al uitgeklim het. Ons trotseer een van die hoogste berge in die stad. Die see glinster aan die voet van die berg.

Halfpad teen die berg op, is daar ’n trokkie wat koffie verkoop. Jade kry vir ons twee koppies ys-Americanos. Ons sit op kampstoele. Die son skyn op haar karamelvel. Daar is ’n rustigheid.

Sy vertel my: “Lank gelede was daar ’n wyse man. Hy het die sonskyn geniet. Die koning het ’n boodskapper gestuur en hom ontbied. ’n Baie belangrike taak het op die man gewag; ’n taak wat vir hom sukses en eer kon bekom.

“Die wyse man het aan die boodskapper gesê: ‘Ek is besig om in die son te sit en jy steur my.’ Die boodskapper het sonder die wyse man teruggekeer na die koning.”

Jade verduidelik aan my dat ons vrede in rustigheid en eenvoud moet vind eerder as om na verwagtinge te jaag en soos Prediker sou sê, “wind”.

Ons koffie is op en ons stap verder.

Uiteindelik is ons bo-op die berg. Die wolkekrabbers lyk klein van bo af – soos nietige Lego-blokkies. Tog is die boubedryf ’n biljoendollarbedryf. Daar is vele uitkykpunte en ’n klein restaurantjie. Jade reken ons moet ’n toebroodjie deel. Sy bestel. So 20 minute later kom ’n roosterbroodjie met kaas, agurkies en tamatie by ons tafel aan. Die tamatie is dik gesny.

Jade vat ’n paar happe en sit die broodjie neer.

“My oupa is verskriklik lief vir tamaties. Hy eet dit sy lewe lank omtrent elke dag. Dit is hoekom sy vel so goed lyk. Hy is 90 jaar oud. “Ouma het nie so baie tamaties geëet nie en hoe ouer sy geword het, hoe meer het sy gevoel sy is minder mooi. My oupa het altyd vir haar gesê dat sy nog net so pragtig is soos die dag toe hulle ontmoet het.

“Wanneer hy vir haar gekyk het, kon mens my ouma se skoonheid in sy oë sien. Drie jaar gelede het my ouma weggegaan. My oupa het verskriklik gehuil en gesê dat hy wil saamgaan. Hy vee steeds sy trane af.

“Sedertdien gaan sy gesondheid elke dag meer en meer agteruit. Ons sorg dat daar altyd tamaties in die huis is.”

Dit is klip en gruis soos ons afstap. Ons sien wilde takbokke vir ons loer deur droë takke en bosse. Hulle is nie baie sku nie.

Hier en daar skemer die eerste tekens van lentebloeisels! Jade neem ’n foto van ’n fyn wit-pienk blommetjie aan ’n dorre bruin tak.

“Het hy geweet lotusblomme groei in vuil water? Ten spyte van hulle omgewing, groei lotusblomme tot kleure wat byna fluoresserende wit, pienk, blou, rooi of pers is. Hulle blare is rein – ongeraak deur die modder en slik van waarin hulle gewortel is.

“Die lewe is nie goed of sleg nie. Ons blomblare word gevorm deur keuses teenoor ons omstandighede. Oorgehegtheid en begeerte veroorsaak lyding; vlekke op ons blomblare.”

Ons is weer onder die berg teen die pad. Daar is ’n misbank wat oor die see aangerol kom. In daardie oomblik ruik die see soos Swakopmund. Ons is lus vir (warm) koffie. Mahu se skrynwerkersateljee is naby.

Ek bel hom: “Kan ons by jou kom koffie drink?”

“Julle is welkom,” sê hy.

– Gasskrywer

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer