Sussie leer kook
Gerhardus van Grootfontein – My sussie is vyf jaar jonger as ek en soos baie sibbe, deel ons ’n kaleidoskoop van ervarings.
Saam het ons kattekwaad aangevang (en nooit op mekaar gesplit nie), maar ook baie baklei. Ek onthou ons het een keer so in die motor baklei en gestoei dat my pa in Etosha-panne gestop het om ons pakslae te gee. Ons was banger vir die leeus as vir die pakslae. Ons het ook ons eie wêrelde geskep: daar was geheime plekke waarvoor ons kaarte opgetrek het; Sterri Stumpies wat aan bome groei; en ’n Barbie-pop met die naam Daisy de Melker wat konstant gehang is.
Voor sussie hoërskool toe is, is ek uit die huis uit en het ons mekaar baie minder gesien. Sy is toe op haar eie reis, het haar eie ervarings en word ’n mooi, slim, selfstandige vrou. Iemand vir wie ek baie respek en liefde het. Gedurende hierdie reis word sussie deur passievolle, sterk, vroue aan feminisme blootgestel.
As student was sy ’n vurige vrou wat die konserwatiewe idees van vrouwees uitgedaag het. Sy het ook nie gekook nie en geen belangstelling daarin getoon nie. Ek dink tog die feit dat sy in ’n huis grootgeword het waar mans die meeste van die tyd kos gekook het, het tot dit bygedra.
Dit was altyd baie interessant om na sussie se idees en opmerkings te luister rakende hoekom feminisme steeds vandag broodnodig is.
Baie van haar denke het ook gespruit uit ervarings. Sy het my al vertel van haar ervarings as kelnerin terwyl sy studeer het. Ek was self ’n kelner vir baie lank en verstaan hoeveel seksuele teistering kan gebeur sonder dat die roofdier ’n woord spreek of ’n hand lig. En die samelewing laat dit toe, want in ’n openbare ruimte is ’n vrou daar om na te kyk. Ons mans sal nooit ’n idee hê wat vrouens se realiteit is nie.
Intussen verhuis sussie Koerdistan (Noord-Irak) toe weens werksgeleenthede. Sy lewe ’n normale lewe sonder bedekkings of inperkings. Sy vertel hoeveel respek sy beleef en hoe veilig sy as vrou voel. Mans dra vrouens op hulle hande en berispe ander mans wat dit nie doen nie.
Gelykheid gaan nie altyd oor stemreg of salaris nie, maar oor hoe jy iemand laat voel. Veiligheid is nie net die teenpool van gevaar nie, maar ook ongemak, verraad, minderwaardigheid en om nie verstaan te word nie.
’n Koerdse man het met merkwaardige dade en sagte woorde aan sussie se hart geklop. Sy het gesê: “Binne”. Soos die verhouding verloop, kry ek boodskappe oor kosmaak en disse.
“Boet, ek moet iets vining aanmekaar slaan, maar het net suurlemoene, olyfolie en pasta in my koskas. Help!” En julle sal my nie glo nie (kom ek toe ook agter), mens kan ’n lekker dis met daardie bestanddele maak. Google “Pasta al Limone”.
So het sussie begin kosmaak en dit raak toe nog ’n belangstelling en ervaring wat ons deel. Later het ek van my eie resepte soos Big Brother’s Boere-bolognaise aangestuur. Sussie het dit met lof geslaag!
Kersfees is toe op ons en omdat sussie by die Moslemfeeste ingesluit word, wil sy ook ’n tradisionele huis-Kersfees vir haar beminde bied. Die hele gesin moes help met instruksies en raad. Ons gesin se WhatsApp-groepie het gegons!
Die feestafel het nie te kort geskiet nie – van aartappelslaai tot bobotie. Die foto’s het baie indrukwekkend gelyk en die vrou agter die fees was trots op haar gastronomiese skeppings.
Die Kersete was nie moeite of werk nie, want dit is iets wat sy wou doen omdat sy waardeer word. Nie omdat dit die pad na ’n man se hart is nie.
Gedurende nabetragting oor die Kersete, vra ek tergend vir sussie: “Nou, is jy kaalvoet as jy so voor die stoof staan?”
“Nee Boet” sê sy, “ek het my sexy stewels aan.”
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie