Sy hande
Hester Steenkamp – Sy hande is 85 jaar oud. Amper 86. Hulle weet wat werk is – eerlike, harde werk. Handewerk. Die tipe werk waar jou sweet en bloed in die aarde voor jou voete drup en diep in die sand wegsink en jy jou brood in die sweet van jou aangesig verdien. Hulle werk dag in en dag uit, in die bloedige somerson en in ysige Kalahari winters, op vakansiedae en verjaarsdae. Deur droogtes en vloede, siekte en ellende. Van donker tot donker. Elke dag. En hulle doen dit steeds.
Dit is hande wat al ontelbare hoeveelheid skaap gewerk het. En bees. En bokke. Wat kastreer het, doseer het, gespuit het en ore geplaat het, onthoring het en gebrand het. Hulle het geslag, ontvlies, gewas, oopgetrek, gespalk, gepars en sorteer. Hulle het uitgeborsel en weggepak en eindelose ure pelse gekaart. Hande wat die vergrootglas vashou sodat sy oë die patrone kan bestudeer wat blink oor die lammers se lywe lê, sodat sy hande kan doen waarvan sy hart vol is. Hande wat se vingers met liefde en trots sag oor die riwwe van Swakara pelse streel.
Hierdie hande kan draad span en kampe maak. Hulle vat raak. Hande wat optel, troos en leer. Hulle maak oop en draai toe, laai op en laai af. Hulle sleep, trek nader en stoot weg. Hulle meet en pas. Hulle tel hoog op en sit sag neer. Het al getugtig, liefkoos en seergekry. Hulle het kalwers uitgetrek en warm gevryf en nat Brahman kalwers teen sy bors vasgedruk, wiele omgeruil en gate gegrawe. Hulle het bome geplant en turksvye gepluk en gekap, geboor, gesweis, gebuig en geverf. Vasgetrek en los gedraai en gesaag, geknoop, gehang, afgehaal en opgesit. Hulle het gebou en reggemaak, styf vasgehou en sag gevat. Dis hande wat sy nageslag veilig toevou as hulle vir die eerste keer teen sy hart neergelê word.
Hierdie hande het geskiet, afgeslag, ontbeen, gesny en gesout. Gekerf en gelooi. Hulle het al duisende der duisende kilometers bestuur, skoolkar en lyne gery, windpompe gediens en pype getrek. Hulle het die maswerk knoop bemeester, die vastrap hanteer, droppers gehang, kragdrade getoets. Gebraai, gespit, gekap en geskaaf.
Dis hande wat skeie kon gooi, rugby speel en krieketballe vang. Hulle was al vol bloed en modder, olie en ghries, sweet en mis. Daar het al trane op hulle gedrup en was al stukkend en rou. Hulle het al pyn gevoel en pyn weg gesmeer. Hulle sit kos op die tafel van talle gesinne. Sy eie, sy kinders s’n en werkers s’n. En hulle kinders s’n. Die hande waarvan die vingers daagliks saamgevleg word in gebed. Oor dankbaarheid. Oor vrees en smekings vir reën.
Sy hande is al geskud deur duisende mense – ministers en skeerders en skoliere, familie en vriende, bekendes en onbekendes. Vir dankie se sê. Vir erkenning. Deur hulle wat opkyk en wil leer. Sy hande het toekennings vasgehou, pryse ontvang en is vereer vir prestasies. Dieselfde hande wat die pen moes vashou wat kontrakte en bankpapiere moes teken vir geld leen en skuld maak, en wat dit op tyd terugbetaal het. Terug gewerk het. Elke keer.
Dis oop hande hierdie. Die soort wat graag gee, en aangee. Vorentoe gee. Wat ophelp en boontoe trek.
Dis ’n man se hande hierdie. Ons noem hom Pa.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie