Sy naam was Rory, en hy’s nou héél
Dis stikstil in die huis. So sonder die skuifel van die stukkende lyfie wat vir té kort elke aand deel van die kuier in die kombuis wou wees.
Hierdie skrywe is vir julle, meneer en mevrou, om te sê die agterspeenhondjie wat julle ‘n ruk terug saam met jul ander opreggeteelde spaarvarkies op ‘n bakkie gelaai het en die lang pad Windhoek sonder kos of water aangepak het, is uiteindelik vry. Verlos van die vonnis wat jul worsmasjien hom opgelê het.
Ek hoop julle lees dit. Én die res van jul kamerade wat diere as kitsbanke gebruik. Teel, inteel en óórteel totdat die uitgebuite mamma net nie meer volmaakte vierpootjies kan bou nie.
Ons het gedink, gehoop ons sal die uitgeteerde bondeltjie kan regkoester. Maar die genetiese skade was gedaan en daar was geen omdraai nie. Op die veearts se tafel het ons vir oulaas die warm lyfie vasgehou en die lig in die sjokoladebruinogies sien verdoof.
In sy kort lewetjie kon hy nooit speel nie; nooit hardloop nie – sy lomp beentjies kon nie sy gewig dra nie. Hy kon nie die son met die trappe af in die tuin gaan soek het nie, want die skeelogies kon nie rigting en diepte bepaal nie.
Hy’t nooit geblaf of geknor nie. Kon nooit aan ‘n been knibbel nie, want sy brein kon nie boodskap by sy voetjies kry om dit vas te hou nie. Kon nooit leer om sy been te lig nie.
Maar hy was lief vir ons. En ons vir hom. Té lief om hom langer ‘n kruppellewe te laat ly. Onse Rory het ‘n héél lewe, ‘n héle lewe verdien.
Ek hoop die 30 stukke silwer wat julle vir jul wavrag sogenaamde opreggeteelde hondjies gekry het, kon vir nóg oorbodige skatte betaal het. Wat stof in jul ontwerperslewe kan vergader en wat uiteindelik deur mot en roes verniel sal word.
Die Groot Boek sê daar waar jou skat is, is waar jou hart is. Jul hart, meneer en mevrou, is hard van gierigheid. Van nóg en nóg en nóg. Want nóg is nooit genoeg nie.
Volgende keer as jul 4x4 na die blink liggies van die groot stad koers, gaan stop by die Dierebeskermingsvereniging. Gaan kyk hoeveel van jul en jul kamerade se opreggeteelde honde eindig in hokke op.
Want mense wat hul lewens met ontwerpershonde wou uitdos, het nie die moeite gedoen om navorsing oor die ras se geaardheid en behoeftes te doen nie. En julle het hulle ook nie ingelig nie.
Honde, soos alle diere, is nie bykomstighede nie. Hulle is nie daar om mense te beïndruk met jou vet bankrekening nie.
Ek weet daar is verantwoordelike telers wat die bedryf met groot erns en liefde beoefen. Maar daar’s veel meer agterplaastelers sonder enige gewete wat nie babahondjies sien nie, maar net bondeltjies dollars.
Telers, álle telers, behoort streng beheer te word. En die gevolge vir onetiese optrede moet být, nie net blaf nie.
Dis die minste wat Rory en duisende ander stukkende en verwaarloosde diere verdien.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie