Sypaadjiegoed is vatgoed
Sê maar net - 30 jaar gelede
Wilna Wolmarans
Hoor by 'n berese vrou van 'n snaakse gewoonte wat die mense glo in Amsterdam, Nederland, het. Dit het haar ook, so sê sy, 'n tyd geneem om vas te stel waaroor dit gaan, maar toe sy eers die beginsel onder die knie het, het sy heerlik meegedoen.
Dit gaan nou oor besittings, soos apparate, meubels, klere, boeke en wat nog, wat hul doel gedien het of waarvoor die eienaar sommer net nie meer plek of smaak het nie. Dié goed word dan sommer eenvoudig op die sypaadjie voor die woonplek neergesit en kort voor lank pryk dit in iemand ander se huis, aangesien dit enigiemand vry staan om dit saam te neem.
Soms moet 'n paar vriende opgekommandeer word om te help om 'n lywige sofa of lendelam tafel by die 'opeiser' se huis te kry. Soms besef iemand halfpad op pad huis toe dat hy nie rêrig dié artikel nodig het nie en los dit dan sommer net daar, waarvandaan iemand anders dit weer voortpiekel.
Ek kan my voorstel dat party artikels ‘n boek sou kon skryf as dit moontlik was, want van dié goed raak seker meer in- en uitgedra by huise as wat ‘n mens jou kan voorstel. Want mense het mos alewig alles nodig wat hul oë sien, veral as dit lyk asof dit iets is wat die lewe vir hulle kan vergemaklik. En dit kan ‘n mens glo in dié stad gou agterkom. Niks staan glo langer as vyftien minute op 'n sypaadjie nie. As dit dan op die ou einde nie aan die verwagtinge voldoen nie, beland dit maar net weer op 'n ander sypaadjie. (Hier te lande word ons darem baie moeite gespaar - 'n mens het nie nodig om jou besittings tot op die sypaadjie te dra om daarvan ontslae te raak nie; die agente van die Departement Verspreiding van Welvaart kom haal dit sommer binne in jou huis. Wonder of die proses gladder sal verloop as 'n mens plakkertjies op dié besittings sou aanbring wat vir verspreiding beskikbaar is?)
Dié gesprek laat dink toe mos aan 'n tendens wat oral in die mensdom waargeneem kan word. En veral dié tyd van die jaar, wanneer die boodskap dié van liefde en vrede op aarde is, kan 'n mens nie daaraan dink sonder pyn nie. Oral op die sypaadjies van die lewe word mense agtergelaat - soms deur onvermydelike omstandighede, soms doelbewus. Mense wat hul doel gedien het, mense waarvoor ander in hul lewens net eenvoudig nie meer plek het nie, mense waarvoor ander hul smaak verloor het, mense wat dalk hul bes gedoen het, maar nogtans nie aan ander se verwagtinge voldoen het nie.
Iewers in die verte eggo die woorde “my beste pêl”. Teen ‘n spieëlkas hang drie kruise en iemand op die lewensypaadjie wonder wat die boodskap daarin is...
- 14 Desember 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie