Taal se Kaapse draai
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Des Erasmus –
Liewe Grieta,
Ek skryf vir jou in Afrikaans omdat ek lankal wou, maar nou eers mag. Dis mos daar in Colesberg se kontrei waar julle se premier Manne Dipico hakskeen in die grond geslaan het en gesê het Afrikaans is die taal van Noord-Kaapland. En laat iemand net daaraan kom vat!
En ek skryf met ’n versoek. Dis nou nie om jou weer om jou hand te kom vra nie. Dit het ek lankal gedoen en jy het nie ja gesê nie. Wat vir my van daardie aand oorgebly het, is net die onthou. En herinnering is my goed wat niemand soos ’n vuurmaaktak van my kan kom breek nie.
Ek wil vra dat jy op ’n Sondagmiddag ná die reën ’n entjie moet gaan ry. Kies sommer jou eie koers, want oral is daardie mooi wêreld tog maar eenders in sy verskeidenheid. En bly tot ná donker weg, want ek wil hê jy moet ook deur vensters gaan loer waar jou asem en die nagdou saam-saam ’n wasigheid gaan skep.
Jy moet dit doen omdat juis Afrikaans as taal van Noord-Kaapland my aan die ver geweste laat dink het. Ry sommer ver tot waar die romery se skoorsteen lui-lui die rookwolkies blaas om traag teen die newel uit die Baai te hang. Vra die nagwag vir noodverkope van ’n ronde kaas uit die soetmelk van die vlei. Of as daar vars sjokolade is, om ’n blokkie saam met jou te breek.
Hou op die smal bruggie oor die kanaal stil en sê dankie vir die bruin water wat die landerye se dors gaan voed sodat die mense brood kan kry. Groet die kinders wat met draadkarre daar teen die nattigheid speel. Skel op die laksman wat sy volgende vangs aan die witdoring gaan oopspalk om vir later se eet weg te vlieg.
En vat sommer die trekkerspoor deur die konsertinahek na die akkers waar ’n man in waterskoene die stroom sy regte pad laat gaan.
Jy sal die plek ken, want op die onderpunt staan die digter se reier steeds en droom. Dis naby die plek waar die rietbos welig groei en die beeste die giftulpe miswei. Die paddas sal met plonse in die water spring wanneer jy naby kom.
Hier skemertyd moet jy stadig na ’n plaasopstal ry. Of toe maar, die mense sal jou nie hoor nie, want die suidewind sal uit Algoa stoot en om die hoeke huil. Kyk daar deur die kantgordyntjies. Die boeremense sal om ’n tafel sit met ’n ou man wat sy vinger onder die groot skrif van ’n familiebybel volg.
En wag maar totdat die boekevat verby is. Jy sal sommer hoor, want ná so ’n sessie maak die huismense elkeen sy hoesie om te wys dis nou verby.
En wag maar, want voorlesings uit Langenhoven se Versamelde Werke gaan ook nog kom. En miskien ook nog ’n vervolgverhaal uit ou Kerkbodes met vergeelde bladsye en omkrul-ore.
Of Grieta, los dit maar.
Nou dat ek weer so daaraan dink, dink ek anders. Ek kom sommer self.
Groetnis. – 4 November 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie