Oom Des
Oom Des

Te kort die samesyn

Sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Des Erasmus – Daar’s krag in pole van teenoorgesteldes.

Juis ’n klein mensie maak my toe ’n reus van Jan Smuts. Dit terwyl ek self maar my lyf kabouter hou wanneer ek na sulke grote plekke gaan. Die lugdienste smyt ons rokers in die agterste sitplekke. Soos ek sake nou lees, gaan dit een van die dae by die kombuis en toilet verby by die agterdeur uit wees. Dalk sommer kortpad spoelbak toe. Dis dus met opgehoue dankbaarheid dat ek in sitplek C gaan sit, wat eintlik ’n B moes wees waar die engtes van die agterstewe ’n letter uitgedruk het.

Toe kry ek my maatjie – grys en effens krom en met plooie as getuigskrif van die wysheid van baie jare. Teetyd maak ek en die buurvrou kennis, want sy vra ’n waardin beleef of sy maar die plastieklepeltjie en suikerpakkie as aandenking van die vlug kan hou. Die Boeingdoedie sê ja. Toe gee ek haar sommer myne ook. Handsak toe.

So vorder ons ook deur die etery.

Toe tref die papieroorlog ons. Dis ’n vorm wat jy op versoek van die Republiek van Suid-Afrika moet invul voordat die poorte van die Goudstad vir jou mag oopswaai. Juis angs het my myne reeds die vorige aand laat invul.

Net daar raak ek ’n boffin van die wolke, want my ervaring van ’n nag stel my in staat om op die effense bewing langs my te antwoord.

Ek sal die vorm vir haar invul. Ken mos die storie.

Vra haar na haar geboortedatum en stel vas dat sy die vorige week 79 geword het.

Vra haar na die rede en die lengte van haar besoek. Sy gaan kuier by familie en dit sal twee maande duur.

Hoeveel geld sy vir die kuiertjie van twee maande saambring?

“Driehonderd rand. Dis al wat ek het.”

Terwyl ons vraag-en-antwoord-sessie voortrol, word die een dokumentjie ná die ander versigtig uit die vakkies van ’n handsak gehaal en met dieselfde sorg teruggeplaas. Onder hulle is ook die reste van die kaartjie waarmee sy 25 jaar gelede nog die Skymaster gery het.

Dan knyp krom vingertjies weer die knippie vas.

Word die huisie en die geboue meer en kom Jan Smuts nader, neem ’n verbouereerdheid toe.

“Ken jy die pad Pretoria toe?” vra sy met ’n byna-fluistering.

“Nee, maar ek ken van vra. Bly by my!”

Sy bly.

Al pad wat ek ken, is by die immigrasiehekke verby. Daar hou sy my onder oog opdat ek nie wegstap nie. Toe is ons na die plek waar die masjien ons bagasie uitwurm.

Twee skoolkoffers is hare – koffers waarvan die knippe lankal gebreek het en wat nou met sterk tou gebind word, maar waaruit kleinkinders eens hul kennis vir die lewe verwerf het.

Vra ’n werker waar die Pretoria-bus staan. Kry die rigting ná ’n fooitjie. Stap die entjie teen die eindpunt na die kondukteur toe af met haar al trippelend agter my aan.

Maak haar aan die vriendelike kêrel oor. Toe reën haar seëninge van dankbaarheid teenoor my uit.

Terug in die aankomssaal is ek alleen tussen ’n horde mense, verlore en klein – ’n dwergie op Jan Smuts.

Want Pretoria se bus het met my stut weggery. Dis een gewen en een verloor. – 23 Oktober 1992

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!