Terugdink
Gerhardus van Grootfontein – Melkgesig sit ek hier voor die rekenaar. Dikkop, snotneus, keelseer, lamgelê en sommer net oes.
Bach speel in die agtergrond en die wasmasjien is onnodig met sy inmengery. Alles is irriterend! Irritasie word vinnig selfbejammering en soos dit elke sterk man betaam, piep en kla ek oor die ongerief in my lewe. Ek het darem nog nie koors nie, anders was dit Openbaring. In my piep, begin ek kwalitatief oor my huidige stand van sake besin: ek is dankbaar vir my Westerse medisyne wat Nurse Nadia altyd vir my organise. Dit laat my altyd bietjie meer in beheer voel gedurende olikheid so in die verre, vreemde China. Die glas-halfleeg-situasie is dat ek moontlik Covid het. Die Raka van die 21ste eeu is by vele mense in die omgewing aanhuis.
Siekverlof in China word toegestaan wanneer jy in traksie lê of net ses asems oor het. Almal werk die heeltyd. Die gevolg is, wanneer iets soos Raka weer die rondtes doen, is werkspasies krankhuise wat met atmosferiese hoes-en-proesende koraalmusiek gevul word. Hierdie situasie word dan sterk gekontrasteer deur die kwarantyn wat ek ervaar het toe ek uiteindelik einde 2022 kon terugkeer China toe. Dit was ná baie moeite, frustrasie en geld. Ek moes vir 10 dae in kwarantyn wees in die stad waar ek geland het. Daarna vyf dae in die stad waar ek woon. Die kwarantyn was ’n surrealistiese ervaring, ’n film, ’n droom.
Ruimtemannetjies geklee in wit het ons van die vliegtuig af begelei. Groot tentsale waar daar massa-Covid-toetse gedoen is, het gewag. Almal se bagasie was papnat van die ontsmettingsmiddel. Registrasie vir kodes moes gebeur en ons is soos Bybelse melaatses hanteer. Ná so paar uur op ’n bus het ons by die kwarantynhotel gearriveer. Ons is in ons verskeie kamers geplaas en moes op ’n WeChat-groep inskakel. Hierdie WeChat-groep het onder andere vir ons in kennis gestel wanneer ons kos voor ons deure geplaas word. Voor elke deur was daar ’n kamera en luidspreker. Wanneer jy bietjie gesloer het om jou kos te vat of jou vuil bord voor die deur te los, het die luidspreker jou aangejaag. In ’n stadium het hulle plastieksakkies na ons kamers toe gestuur wat ons vol water op die dreineringsgaatjies van die storte en wasbakke moes plaas. Die rasionale vir hierdie was dat die virus nie tussen kamers kan versprei nie.
Lank ná die kwarantynervaring het ek gehoor dat daar in van die kwarantynfasiliteite ’n sanitêre gas deur die pype gepomp is. Of dit die eintlike rede vir die plastieksakkies was en of hierdie hoorsê waar is, weet ek nie.
Nou dat ons in mekaar se kieme bad en brou, vra ek: was die kwarantynsaga alles die moeite werd? Wel, ek dink dit is ’n baie komplekse situasie wat geen eenvoudige antwoord of oplossing het nie. Nadat China die regulasies oornag gelig het, was die apteekrakke na ’n week leeg. Die krematoriums was oorvol. Vriende van my se familielede het weens die pandemie omgekom. Hierdie warboel van gebeure het sy eie uitwerking op die psige gehad. Dit het bygedra tot emosionele verplasing, angs en vir baie mense hartseer en verlies. Herinneringe en ervarings uit Namibië aan die begin van die pandemie het weer kop uitgesteek – toe stukkies van ’n gemeenskap oornag verdwyn het. Met hierdie terugdink weet ek steeds nie hoe om die maskers, spertye, sosiale regulasies en kwarantyn te evalueer nie. Hoe word menslike lewe in eenhede van gerief en ekonomiese welstand gemeet?
Wag, my wasmasjien peep. Ek moet eers my wasgoed gaan ophang.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie