Chris Jacobie
Chris Jacobie

Toe arbeid nog soet was

Sê maar net 30 jaar gelede
Chris Jacobie
Die snaakste dinge is besig om te gebeur en veranderinge wat daarmee gepaard gaan, is ingrypend.

In so ’n mate dat ’n mens sommige oggende wakker word met die gevoel dat vreemde wesens jou na die een of ander planeet in die uithoeke van die uitspansel geneem het.

Ek kan onthou hoe kondukteurs trots in hul swart uniforms en kosblikke met blink gepoetste geelkoperdeksels na hul treine aangestap gekom het.

Hulle was lus vir werk en ’n mens kon dit aan hul houding sien.

’n Kondukteur se pet was effe skeef soos die mode dit seker vereis het en hy het van die punte van sy skoene tot by die wapen op sy pet geskitter.

Selfs die passasierstrein het geruik asof ’n hartoorplanting binnekort daar uitgevoer gaan word en die lokomotief het gelyk soos die jong mannetjies van vandag se motors as hulle Sondae deur Windhoek se Onafhanklikheidslaan ry.

Van die lokomotiewe het brons of rooi naamplate gehad en dit het uitgestaan. Die assistent-drywer was die man wat die koperpype op elke stasie politoer moes gee en die idee was blykbaar dat die lokomotief tien myl van die spoor uitgeken moes word as dat dit aan Piet Dreyer of Manie Koekemoer behoort. Dit was standaard en niks minder as dit was goed genoeg nie.

So was dit met feitlik enige beroep en veral ambagsmanne het gefloreer op staaltjies wat aangedui het hoe deeglik en netjies hulle is.

As die een sonder ’n waterpas ’n muur gebou het, het ’n ander een ’n ingewikkelde brug oor ’n pad gebou sonder enige planne.

Dit was nie ongewoon om van ’n bouer te hoor wat ’n tekenaar se fout agtergekom en toe sommer self besluit het om dit reg te maak nie.

Werk wat aangepak was, is klaargemaak in die vinnigste moontlike tyd en niemand het tien voor vyf gereedskap laat val om ’n plek op die vragmotor te kry nie.

Dit was edele tye vir edele mense en in hul laaste jare het hulle nog meubels vir kinders gebou en het hulle met hul kleinkinders op die stoep gesit en verduidelik waar elke eelt of litteken vandaan kom.

Dit is waaraan vakmanne gemeet was.

En vandag?

’n Motor moet sewe maal sewe keer motorhawe toe gestuur word omdat daar ’n onaardige gefluit by vermoedelik die remskoene is. Ná vele rekeninge en vele remskoene is die kwaal nog nie genees nie en wanneer jy vra waarvoor jy betaal as alles nog is soos dit was toe die kwaal die eerste keer kop uitgesteek het, is die verduideliking dat dit ’n kwaal van die bepaalde motor is.”

“Daardie briek moet so skreeu anders is dit nie ’n Opel, Volkswagen, Cortina of Bedford nie. Ons is magteloos. Dit is brieke se manier daardie.”

Moet dit nie waag om verder te kla nie, want dan is die kans beter as honderd persent dat die wiele, die masjien, ratkas en deure vervang gaan word om die skreeugeluid te verwyder.

So gaan dit met feitlik enigiets deesdae.

’n Deeltydse bouer werk so drie weke aan ’n muur wat ’n vakman van die verlede nie ’n dag sou geneem het om te voltooi nie.

Daar is egter ’n ander verskilletjie. Die deeltydse bouer, skrynwerker of wat ook al het reeds die geld wat hy vir die bouwerk moes kry by jou geleen en soms is hy selfs by jou in die skuld nog voor die werk voltooi is.

Aan die einde van die projek wanneer jy vir hom boonop kos, klere, geld vir ’n huurmotor en ’n slaapplek gegee het, moet hy die erf skoonmaak sodat hy ’n gedeelte van die skuld kan delg.

Aan die einde van die dag kap jou kleintjie teen die muur en die bakstene op die grond vertel ’n smartlike verhaal van die tye van vandag.

En vanaand as jy die Bybel by Openbaring oopslaan, besef jy die mensdom beleef die einde van die tye. – 20 Augustus 1992

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!