Toeka se lekker lieg
Sê maar net 30 jaar gelede
Stories het elk hul eie karakter – of dit nou ’n liefdesverhaal is waar die soetsappigheid in ’n dik of dun straaltjie drup en of dit nou ’n moordverhaal is waar die skrywer oorvloedig met die tamatiesous werk.
Die stories met die beste karakter vir my bly steeds die oordrewe storie.
Ons ken almal die sogenaamde visvangstories. Van die grotes wat weggekom het of van dié een se vis wat net daardie rapsie groter as die volgende ou s’n was. Of dit nou liegstories is, speel geen rol nie. Dit bly lekker luisterstories.
Hoe langer die storie word, hoe lekkerder word hy. Die toehoorder/s hang later behoorlik nes ’n skilpad wat aan ’n pensvel vasgebyt het aan die verteller se lippe. En dit gee die verteller daardie bykomende woema om meer interessanthede en “leuens” by die storie te voeg.
So kry ek Saterdag by Anchen se straatmark ’n ou vriend daar van die Koue Bokkeveld af. My gedagtes het onwillekeurig teruggeflits na die tyd toe hy daar langs die Grootrivier met sultanas geboer het.
Daai tyd het my oupa ook in daardie geweste gebly. Vakansietye as ons by my oupa-hulle gaan kuier het, was sy oupa ook gewoonlik in die omtrek. Man, en kon die ou oom nou vir jou lekker stories vertel!
Die een wat ek die beste onthou, lui min of meer so: Sy (my vriend se oupa) een neef het destyds op Kakamas gebly, maar na ’n nooi in die Lutzputs-omgewing gevry.
Elke naweek moes hy die ysterperd opsaal om darem ’n vlerk by die nooi te sleep. Die vry-tog was nou nie van die maklikste nie. Veral die eerste ent het dit maar sukkel-sukkel gegaan, want die kalkrantjies net soos ’n mens die pad van Kakamas na Lutzputs vat, was maar klipperig en ’n mens moes versigtig ry om nie ’n band stukkend te stamp nie. Daarby was die pad ook maar bra sinkplaat gery.
So gebeur dit toe dat die neef op ’n dag weer die handvatsels vasgryp en afsit na die nooi. Net anderkant die kalkrandtjies kom die eerste teëspoed. Iewers het ’n klip die band seergemaak en ’n papwiel veroorsaak. Of dit nie genoeg was nie, ontdek hy boonop dat sy fietspomp op die sinkplaat-pad afgeskud het. Wat nou gemaak?
Skielik vanuit die niet is daar egter ’n vreeslike stofwolk. Deur nou, skrefiesoë gewaar hy ’n pofadder wat met sy geblaas dié groot stofwolk veroorsaak.
Nou kyk, daardie dae kon die manne ’n plan maak. En so was dit ook met die neef. Hy het vir hom ’n netjiese mikstok gaan sny en die pofadder ewe versigtig agter die kop gevang sonder dat die adder eintlik iets agtergekom het. Net so netjies het hy die slang se bek oor die band se lugklep gedruk en ewe houtgerus die slang die wiel laat pomp.
Toe hy daarmee klaar was, het hy die “nuwe fietspomp” agter op die “carrier” vasgemaak en slang moes tot by Lutzputs die wiel nog tien keer pomp.
“En toe?” vra ek.
“Nee man, ek het die ding dadelik in Pretoria laat patenteer en. . .”
“Ekskuus oom, ek hoor my ma roep my. Ek moet nou gaan. Volgende keer vertel oom my hoeveel geld oom met die patent gemaak het.”
“Reg boetie, maar jy moet nie vir die ander mense vertel nie. Jy weet ek is besig om die patent te verfyn en netnou spring iemand my voor.” “Ek maak so oom.” - Dinsdag 4 Februarie 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie