Tussen die duiwel en die diep blou see
Hester Steenkamp – Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit mos dieselfde – nes die antieke storie, wat bekend staan as ’n "Koan", wat uit die Boeddhistiese tradisie kom en nogal insig bied op ons lewens van vandag.
Die storie gaan oor ’n man wat deur ’n woud gestap en gesien het hoe ’n tier hom uit die onderbos dophou. Die man het probeer weghardloop, maar hy kon hoor hoe die tier al hoe nader kom. Soos hy hardloop, het hy skielik voor ’n krans te staan gekom. Hy het ’n sterk wortel vasgegryp en oor die krans geklim en daar gehang in ’n poging om van die honger tier af weg te kom. So in die hang het hy afgekyk om ’n ontsnaproete te soek, maar tot sy skok het hy gesien onder hom is nóg ’n tier wat vir hom wag in die kloof. Op daardie oomblik het ’n muis gekom en aan die wortel waaraan hy gehang het, begin knaag. Dis tóé dat hy sien daar groei ’n paar wilde aarbeie uit ’n opening in die krans. Hy het sy arm uitgesteek en een gepluk. Dit was groot en perfek ryp en warm van die son. Hy het die aarbei in sy mond gedruk. Dit was heerlik. Die einde.
Sedert ek daardie storie gelees het, bly draai dit in my kop. Ek betrap myself kort-kort dat ek ’n ander einde probeer opmaak. Dalk het daar ’n wandelaar gekom en die man gered. Of dalk het die muis ophou knaag. Of die tiere het moeg geraak en geloop of ander prooi gewaar. Dalk het die man en die (pratende) muis onderhandel of die man het vlerke gekry. Dalk het die aarbei magiese kragte gehad? Maar dit is nie hoe die storie eindig nie. Eintlik weet ek wat met die man gebeur het – hy is dood, maar dis in ons aard om altyd na ’n goeie einde te soek. Maar helaas, dis nie hoe die lewe werk nie. Soms werk dinge nie ten goede uit nie.
As dinge kan skeefloop, dan sal dit. Slegte dinge sal ongetwyfeld gebeur. Jy kan afgedank word, of ’n ouer, kind of geliefde aan die dood afstaan. Jy kan jou kar stamp, siek raak, jou beursie verloor of iemand kan jou hond doodry. Daar gaan dalk by jou huis ingebreek word of ’n gebarste waterpyp kan alles verwoes wat jy oor ’n leeftyd bymekaargemaak het. Jou foto’s en jou kinders se rapporte ook. Jou mediese fonds kan uitgeput raak, jou hare kan begin uitval of jy kan gewig optel. Jou kat kan vergiftig word of jy kan ’n migraine kry op jou dogter se troudag. ’n Vriendin verraai jou, kinders emigreer, jy kan per ongeluk jou orgideë se nuwe blomstingel afbreek. Daar kan ’n pandemie uitbreek, jou besigheid se deure moet gesluit word, jy word insolvent verklaar. Ag, die lys is eindeloos, en baie meer ontstellend as hierdie paar goed. En dikwels gebeur die slegte dinge met goeie mense.
Tog, die ding van die storie wat my die meeste bybly, is die man se uitreik na die aarbei. Die bewuste handeling om sy arm uit te steek. Ek dink dis daar waar die les lê, waar die antwoord lê en waar die troos lê. Dalk moet ons, selfs in die aangesig van ondenkbare tragedies, die aarbei pluk. Om ’n oomblik te neem om stil te raak en net op die warm, soet, sappige aarbei te fokus. Voel hoe die vrug oopbars en die stroop jou mond vul. Proe hoe sonlig proe. Die kraak van die saad tussen jou tande voel en hoor en die genot ervaar van daardie een oomblik. Al is dit vir net een oomblik.
Wanneer ons tussen die duiwel en die diep blou see is, kan ons kies om dit meer draagbaar te maak, meer aanvaarbaar en meer hanteerbaar. Dis waar ons kragte lê. In keuses. Selfs in die moeilikste situasies kan die strewe na geluk ’n nuwe roete bied na vryheid. Pluk die aarbei.
– Gasskrywer
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie