Uit ’n vonk ’n groot vuur
Ek sê maar net (30 jaar gelede)
Des Erasmus – Piet Gog kom kuier altyd in die winter. Dis nie oor die biltong nie, sê hy met sy mes wat met presiesheid deur ’n geel lagie vet tot op die rooi vleis kerf. Nog twee stukke lê op die tafeltjie langs hom met kaggelvlamme wat met die skaduwees speel. Sy kuier is glo oor die vuur.
Trêmp, sê die grootmense vir hom. Sommer Gog, maar met die nodige respek en bewondering spreek die kleingoed die wintergas aan.
Nie veel boekekennis hierdie man nie. Toe hy moes leer lees, het hy gespeel. Toe hy moes liefhê, het hy gesels. En in sy grootmens het sy speel en gesels hom bygebly. Hy het so ’n veeg geskiedenis weg. Maar in die proses span hy feite en fiksie verkeerd-om in. Hy meng wat was met wat kon wees.
Sy luisteraarskringetjie voor die vuur bly basies dieselfde met ’n effense aanwas van jaar tot jaar namate die kleintjies groter word en ’n storiebelustigheid hulle pak. Die groteres kry weer nie die geselsband gebreek nie. Sy karakters verander, maar die temas bly.
Die yster waarmee die kaggelkole geroer word, noem hy ’n “poker”. En terwyl hy die kole pouk, begin hy met ’n vuur.
“Doerie jare jaag Tulbagh se troepe ’n beesdief Visagie tot oor die Gariep. Jy spel hom met ’n ge, maar jy sê hom met ’n se. Die perde se hoewe raas en die AK’s swaai, maar hy bly voor. Daar by Swartmodder se fonteine voel hy veilig in die koue. In sy jaagtog het sy vuurhoutjies uit sy saalsak in die Oranje geval. Toe sien hy ’n vuurtjie in die berge. Daar aangestap gekom, kry hy die Namas in ’n gestry. Die een klomp sê houtskool is die beste en die ander sê die klonte, die kameel se goed, brand beter. . .”
Dan is dit leeujag teen die Kunene. Vuilbaard dryf hom tot teen die water. Krokodil kom kyk weer uit sy rivierhuis wat aangaan.
Elke jaar oorleef Gog. Elke jaar is dit ’n anderste wonderwerk sodat hy kan kom vertel.
Enetjie vra hom watse werk hy doen.
Sy hande staan vir niks verkeerd nie, sê Gog. Maar hy kry nie niks nie. Hy’s in elk geval so besig dat daar kwalik tyd vir werk oorbly.
“Waar’s oom se vrou?” Die hele kringetjie sit vorentoe in afwagting op ’n antwoord op ’n vraag wat lankal in hulle maal.
“Vrou het ek nie,” sê Gog terwyl hy na ’n uitwykroete soek.
“Lank gelede was daar ’n meisie. So ’n vaalhaar-nooi uit die vlaktes van die Suide. Laai iemand my op, vra ek om daar by nêrens afgelaai te word. Dan bly ek so ’n dag of twee tussen die klippe en onder die bome waar ons saamgestaan het. . .
“Maar ek wil julle van die olifant vertel. . .”
“Nee Gog, van die vaalhaar-nooi.”
“O, ons twee?”
Hy dink ’n bietjie. “Die laaste keer toe ek haar gesien het, het ons ook oor die koue en oor vuur gepraat. Dit was ’n bloedige middag van die somer. Maar sy vertel van die winter wat vir altyd in haar hart sal bly. En ek vertel van die stomp vuur wat immer in my brand.”
Gog bly lank stil. – 27 Mei 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie