Uitklophou vir ’n fobie
SMN 30 jaar gelede
Carina Cocklin – ’n Fobie is ’n vreeslike ding.
En daar is soveel om van te kies. Kloustrofobie, arachnofobie, fobofobie en vele meer.
Party mense is bang vir tandartse, ander is bang om ’n haarkapper te besoek omdat hulle nog nooit een gekry het waarmee hulle tevrede is nie, en ander mense is selfs te bang om ’n toon by hul voordeure uit te steek.
’n Interessante ding is dat baie fobies van die televisie afkomstig is. As jy te veel na hysbak-moordstories kyk, laat hysbakke naderhand jou hare rys. Kyk jy te veel na vampier-goeters, begin die donker net dikker en donkerder lyk. Snaaks hoe ons vrese na vore tree net sodra dit donker word. En snaaks dat ’n mens sekere dinge net in die donker doen en half skrikkerig daarvoor voel in die daglig.
Hoe langer vrouens daaroor dink, hoe meer aanvaarbaar klink dit seker om androfobie op te doen – dis nou die geleerde manier om te sê dat ’n mens bang is vir mans!
Want sien, hoe langer vrouens met dié uitheemse, super-intelligente (hulle weet ALTYD van beter), erg liggeraakte, motorbehepte spesie te doen kry, hoe meer dink ’n mens dat jy liewer kontak met hulle moet vermy! Dis hulle wat baie vinnig reg is om vir jou te sê dat jy maar ’n plan moet begin maak met jou gewig, of jou haarstyl, of jou kleredrag, of selfs jou GEDRAG. Maar mans voel seker maar dieselfde oor vroue.
Ag, en hulle is darem nie heeltemal onaanvaarbaar nie. Natuurlik kan ons hulle so nou en dan waardeer ook!
Ek het nog altyd ’n swak plek vir ’n mooi das gehad en het nog nooit geskroom om dit te sê nie. Totdat ek op een mooi somersdag erg deur ’n vriendin oor die vingers getik is omdat ek ’n wildvreemde man ’n pluimpie oor sy besonderse das gegee het.
Maar laat ons terugkeer na die fobies. Ek het wel op ’n keer een van my baie fobies positief aangewend. Sien, ek haat hysbakke, want dit gee my engtevrees. En dan haat ek ook die feit dat almal altyd stilbly in ’n hysbak. Dis asof almal na die dak staar en sekondes tot ligjare verleng word. Niemand kyk in niemand se oë nie en niemand glimlag vir niemand nie. Dis byna asof dit ’n ongeskrewe reël is.
Toe besluit ek eendag om die onvergeeflike te doen. Net toe ons byna elf mense is in ’n hysbak wat tien mense kan vat, voel ek die fobie druk my. En soos wat baie vroumense nou maar is, moes ek uiting daaraan gee. En watter beter manier is daar nou as om te praat?! Dis toe dat ek sê: “Het iemand al agtergekom dat niemand ooit iets in ’n hysbak sê nie, en dat dit altyd lyk asof niemand kan wag dat die deure tog asseblief moet oopgaan nie?”
Die reaksie was oorweldigend. Eers het almal gelyk begin kommentaar lewer en daarna het almal verleë begin lag. En die ys was gebreek.
Mag ek byvoeg – ek het daardie dag ’n hele paar nuwe vriende gemaak. Dit baat soms om ’n paar ongeskrewe reëls te verbreek. Maak dus die beste van fobies – wend dit positief aan! – 24 Mei 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie