Hester Steenkamp
Hester Steenkamp

Vaal is die boervrou se wit

Sanet Pearson
Hester Steenkamp – Soms kry ek myself dat ek deur Pinterest se foto’s blaai en dan verkyk ek myself aan al die lieflike mooi goed daar.

Die smaakvolle huise met hulle pragtige meubels en tuine. Die son wat met engel-strepe deur blinkskoon vensters skyn en oor sagte banke met wollerige komberse val en weerkaatsings maak op die blink vloere.

Die lieflike gesonde potplante wat met heldergroen, welige blare in hoeke staan en oor hangmandjies tuimel. ’n Badkamer met blink spieëls en ’n gladde bad met snoesige handdoeke wat in perfekte rolletjies gerol is, met ’n orgideë op die marmertafeltjie.

“n Deken wat skuins oor ’n stoel lê met die tossels wat so netjies in gelid op die houtvloer rus. Die tuine met geen tak of blaar uit plek nie en die klippertjies wat netjies die beddings bedek en nie eens een onkruidjie wat uitloer nie. En dis wit. Alles is wit. Die banke, die kussings, die vloere, die handdoeke. Selfs die mure. Dis net wonderlik mooi. En skoon. En wit.

Maar laat ek julle nou ’n ding vertel... dis níé hoe ’n boervrou se huis lyk nie. Wit is nie jou vriend nie. Wit is uit. Vir alles en enige iets. Ons werk in skakerings van bruin en beige en grys. Jy weet, aardse kleure. Kleure wat lyk soos die veld en die grond, die diere en jou man se lyf. Basies die kleur van stof. Vir enige sielsvrede, gaan vir bruin en vergeet geheel en al van wit.

Van die kombuise praat ek natuurlik nou nie eens nie. Dis mos maar ’n vrou se plek daardie. Daar waar jy, gewillig of baie onwillig, die meeste van jou tyd deurbring. Pinterest-kombuise laat kry jou sommer lus vir kook en bak en inlê. Groot skoon oppervlaktes met koperpotte wat uit die dak hang. Groot vensters wat natuurlike lig inlaat vir die kruietjies op jou vensterbank.

“n Stoof waarmee jy ’n weermag kan voed. Blink glasbottels met geheime in wat jy sommer kan ruik. Maar hu-uh, nie onse kombuise nie. Daar is die oppervlaktes vol van rondlêgoed. Dis hoede en spuite en kastreerrekkies. Dis wassers en tietiebottels vir die hanse en fakture van die koöperasie. En draad. En gom. En batterye. Maak jy die yskas oop, moet jy jou wegbaan deur die magdom botteltjies en houertjies met veemedisyne en hondsdolspuite. Die yskasdeur behoort aan die boer.

Ons plante het almal bruin stingels en kalkkolle op die blare. En natuurlik stof. Die banke is toegegooi met komberse en kussings vir die dierekinders. Die matte is bruin en verbeeldingloos en lyk maar soos buite – skakerings van vaal.

Voor die vensters, aan die buitekant, hang skadunet om die dodelike weste-son uit jou kombuis te hou, want niks wil daarbinne lewe gedurende die somermaande nie. Veral nie jy nie. In die tuin voer jy ’n ewige stryd met onkruid, bossies en kweek wat alles verswelg. Geen plant groei so vinnig en mooi en gewillig soos ’n onkruid nie. En dis ’n stryd wat jy telkemale maar verloor en soms voel jy jy gaan alles uitruk en net klippe gooi. Maar nie wit klippe nie, want nie eens ’n wit klip bly wit op ’n plaas nie.

Dis so lekker om die mooie goed te kyk en te droom en te wens, maar soos die spreekwoord mos sê, jou huis is waar jou hart is, en my hart is op die plaas met sy bruin en vaal en stof. En hondehare wat oral vassit. En plante wat ons lewendig troetel. En ’n boer vol stof wat diep sug van genoegdoening as hy sy moeë lyf op die bed neerlê. Op die bruin beddegoed wat jy vir huweliksvrede leer liefkry het.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer