Otis Daniels
Otis Daniels

Van bakboord na stuurboord

Otis Daniels
Die gevaarligte het onmiddellik begin flikker toe my waterrekening so drie maande gelede onverwags van sowat N$600 per maand tot N$2 370 gestyg het.

Die astronomies styging het my laat kopkrap en ek het begin wonder of daar nie dalk ’n lekkasie kon wees nie.

Ek loods toe ’n interne ondersoek. Die watermeter lyk reg en daar is geen nat kolle op die erf, teen die mure of op die grond waar daar watertoevoerpype lê nie.

Ek vra ook ’n loodgieter om te kom help kyk. Saam kom ons tot die besef dat dit so droog soos die dorre Namib self op die eiendom is.

Om dinge te vereger kry ek op versoek van die munisipaliteit ’n dreigende telefoniese boodskap van die skuldinvorderaars RedForce dat ek vinnig ’n plan moet maak om my agterstallige waterrekening te vereffen.

Ek weet daai mense sien rooi en het nie tyd vir speel nie. Hulle kom draai sommer jou stopkraan toe en haal dan die meter summier uit. Sosiale media en die nuuskanale was vol van hulle modus operandi.

Ek gaan soek toe onmiddellik ’n verduideliking by die munisipaliteit se kliëntedienskantoor.

“Hoekom is my waterrekening so hoog en waarom het julle my aan RedForce oorhandig,” wil ek weet.

“Ons het vir u ’n nuwe watermeter ingesit en dit is die koste daaraan verbonde,” word ek meegedeel.

“Ek dra geen kennis van ’n nuwe watermeter nie en volgens my en sover my kennis strek, is dit steeds dieselfde toestel as toe ek ingetrek het,” kap ek terug.

Om die vrede te bewaar vat ek haastig die pad huis toe en gaan neem foto’s van die sogenaamde splinternuwe “maar tog ou en effens geroeste” watermeter op my perseel.

Gewapen met die bewyse keer ek terug.

“Kyk asseblief. Lyk dit soos ’n nuwe watermeter?” wil ek weet.

“Daar is beslis fout. Ons gaan ondersoek instel,” word ek meegedeel.

Ek begin toe ’n forsensiese ondersoek en stel vas die meternommer op my munisipale rekening verskil van dié van die meter by my huis. Ek ontdek ook dat daar wel ’n paar maande gelede ’n nuwe watertoevoerpyp en watermeter op die hoek van my eiendom aangebring is.

Dit is gedoen vir die ontwikkelaar met ’n kontrak om infrastruktuur vir ’n nuwe woonbuurt in die omgewing te lewer.

Ek nader weer die kliëntedienskantoor en deel my nuutgevonde kennis oor die situasie met hulle.

Saam besef ons toe dat die watermeterleser die lesing van die ontwikkelaar se meter op my rekening geplaas het.

“Ek verstaan foute word gemaak. Kan julle dit regstel, asseblief,” vra ek mooi.

“Ons gaan ’n meterleser stuur en die kwessie oplos,” kom die belofte weer.

Dit was twee maande gelede.

Sedertdien is die watertoevoerpyp op die hoek van my eiendom gesluit en die watermeter is ook verwyder, maar RedForce se boodskappies gaan voort.

Ek het my uit desperaatheid tot die skuldinvorderaar gewend en hulle van die situasie verwittig.

By verdere navraag het ’n “nuut aangestelde” klerk by die rekeningafdeling van die munisipaliteit my weer verseker dat ’n ondersoek geloods sal word en ’n watermeterleser sal weer my huis besoek om weer vas te stel wat die nommer van my meter is.

Ek bid en vertrou dit gebeur voor RedForce my nog verder beboet, my meter kom verwyder of erger nog, die huis kom afvat. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!