Thusie Gamibes (002)
Thusie Gamibes (002)

Van beroep tot skool en lyfstraf

Thusie Gamibes
Die langnaweek het my laat dink aan dinge wat nou in die wêreld gebeur.

Die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne en die onlangse verspoelings in Durban, KwaZulu-Natal in Suid-Afrika.

Ek vat ’n stoel en gaan sit buite. Ek kan die straat sien en die mense, veral tieners wat heen en weer beweeg.

Maar die ding waaraan ek die meeste dink, is ons leefwyse. Ek dink veral aan ons kinders wat by jeugmisdade betrokke is, en vra myself af of die ouers nie genoeg aandag aan hul kinders se doen en late skenk nie.

Sommige sê ons mag nie ons kinders té veel prys nie, want dan swel hulle koppe. Ek glo ons moet hulle aanspoor – veral as hulle nog op skool is – want op skool is dit ook nie maklik nie. Hul maters en ouer mense boelie hulle genoeg.

Dus is dit ons taak as ouers om hulle soos volwaardige mense te laat voel.

Dit is seker ook nie altyd so maklik om kinders te loof en op te hemel wanneer hulle by die huis ingebars kom, hul boeke op die tafel neergooi, oor pa se voete val waar hy sit en koerant lees, en luidkeels verkondig hulle is honger nie .

Maar jy moet hulle noodgedwonge prys en saamspeel om die vrede te bewaar. Eerlike lof kan die hardste hart versag.

Onlangs het een van my vriendinne haar kind berispe oor haar lang, los hare, maar intussen het die skole besluit om kinders toe te laat om met lang hare of met vlegsels skool toe te gaan.

Daardie aand was die kind weerbarstig, rebels en nors. Toe besef my vriendin haar fout en sê: “Ai my meisiekind, ek is so trots op daardie A wat jy in wiskunde gekry het.” Skielik het die kind weer geglimlag en sy antwoord: “Dankie Ma. Ek gaan hard werk om nog beter simbole te kry.”

My Boesman-kleinkind kuier tans by my vir die week, en sy het gevra of ek asseblief vir haar ’n pruik kan koop. Sy wil dit skool toe dra omdat die weer baie kouer op Tsumkwe is. Ek was dronkgeslaan oor ’n graad 1-kind wat nou al daardie tipe hare wil dra. Sy redeneer onderwysers dra dit ook en haar kop sal sonder die pruik kwansuis baie koud kry.

Nou ja, as ons as ouers werklik die mag van positiewe denke in ons huise wil laat geld, kleur dan u geselsery of selfs berisping en kritiek met ’n tikkie welverdiende lof in.

Hou die kritiek minder kras en probeer ook om goeie punte en gedrag te loof, want ons kinders het daardie balans nodig om te besef wat regtig in die lewe saakmaak.

As ’n kind op skool het ons sonder skoene skool toe gegaan. Ons het ook ons lywe met kookolie gesmeer (wat vandag so duur is). Destyds was ons skoolboeksakke sommer plastieksakke. Vandag moet Grasshopper-skoene en Adidas-sakke gekoop word of die kind weier volstrek om skool toe te gaan.

Dan moet ek nie eens praat van toebroodjies vir pouse en sakgeld uitdeel nie.

As jy jou kind dissiplineer, word sommer dadelik vir jou gesê: ”Ek gaan nou polisie toe, want dis teen die wet!” Ek wens soms dat lyfstraf weer ingestel kan word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer