Gene Travers
Gene Travers

Van obsessie en prioriteit

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Gene Travers – Ek dink almal is dit eens dat dit die regering se plig is om toe te sien dat streng maatreëls toegepas moet word oor mense en dinge wat die land binnekom.

Jy kan nie toelaat dat enige Jan Rap en sy maat met sy kontrabande jou land binnestroom nie, maar soms kry ek nie die kloutjie by die oor nie.

’n Sakeman van Windhoek moes verlede week dringend ’n besoek aan Suid-Afrika bring. Uit die aard van sy besigheid hier te lande kan hy nie sommer enigiemand in beheer laat nie.

Hy versoek toe ’n vriend van hom in Suid-Afrika, wat ’n soortgelyke bedryf bestuur, om net vir ’n paar dae toesig oor sy sake te kom hou. Die vriend sou dit bloot as ’n vriend en sonder betaling doen.

Die arme besoeker uit Suid-Afrika, wat eintlik meer as ’n toeris beskou kan word, was skaars hier toe lede van die staat op hom toeslaan en hom summier in die tronk smyt omdat hy dan nou kwansuis hier werk sonder ’n werkpermit.

Die arme man moes twee dae lank in ’n vuil sel toegesluit sit, terwyl ’n regsgeleerde en selfs ’n polisie-offisier probeer het om hom daar uit te kry.

Toe mense aanbied om vir hom borg te betaal, was die antwoord dat borg nie aan hom toegestaan kan word nie, omdat hy nie ’n misdryf gepleeg het nie!

Intussen wemel Windhoek se strate van leeglêers, boewe en bedrieërs, maar daar word nie eintlik ’n groot poging aangewend om hulle voor stok te kry en summier in die tronk te gooi nie.

Die besoeker uit Suid-Afrika, duidelik ’n man met ’n goeie agtergrond, het my ná sy verskrikking vertel van die vuil sel waarin hy toegesluit was. Hy vertel dat hy regop gesit en slaap het, want hy was bang die kakkerlakke kruip oor sy gesig.

Hy oorweeg ook nou regstappe teen die Namibiese regering en die eis wat hy wil instel, is astronomies.

Staan in die tou, my vriend van Suid-Afrika! Hier is ’n groot klomp plaaslike ouens voor jou. Terwyl boewe en bedelaars die strate van die hoofstad ontsier en onskuldige besoekers in die tronk gesmyt word, is daar darem ’n straaltjie van hoop.

My vriend Eddie Holloway vertel my van die bejaarde man wat hy vandeesweek net buite Windhoek aangetref het. Die ou man, vertel Eddie vir my, maak ou bakstene wat weggesmyt word, bymekaar. Hy kap dit dan skoon en bied die bakstene weer teen ’n minimale bedrag te koop aan.

Dit is harde werk en volgens Eddie is die ou man se hande al vereelt van al die kapwerk wat hy moet doen, terwyl duisende mense in die land rondloop en kla dat hulle nie werk kan kry nie.

Dit is oor mense soos dié ou man wat stories geskryf moet word. Hy verdien sy brood in die sweet van sy aangesig.

Dit is harde werk, maar dit is eerlike werk.

– 13 Oktober 1994

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer