Van uithoek tot terug in Windhoek
Van uithoek tot terug in Windhoek
Ná ses maande in Amerika, ontvang ons ’n koue winters-soengroet van Windhoek.
Lekker tuis in ons mooie land.
Enige iemand wat al in die buiteland gewoon het, sal vir jou sê dat mens ’n nuwe waardering vir jou land ontwikkel as jy hier weggaan. Ons kom terug met ’n dankbare hart wat maande lank na die skoon lug en natuurskoon verlang het. Selfs midde hierdie koue, is dit ’n warm verwelkoming.
Om hier uit te kom, was wel nie so moeitelose as wat jy sou dink nie. Ons sien nooit uit na die lang vlugte, vervelige tussenstoppe en vlugvoosheid nie, om nie eens te praat van die naelbytstres en angs van alles wat dalk kan skeefloop nie – vertragings, gekanselleerde vlugte, bagasie wat wegraak en dies meer.
Ons is al gesoute reisigers en ek is oortuig daarvan ek het al die kuns vervolmaak om tydens die vlug te slaap – ’n tegniek wat noodsaaklik is vir ’n vlug van 14 uur.
My man aan die ander kant vol egter nie so nie; ’n rugbyspeler wat inweeg op 110 kg en meer as die helfte van my sitplek ook opneem. Slaap is nie vir hom ’n gemaklike taak nie en hy gebruik eerder die vliegtyd om flieks te kyk, en sommer heelwat daarvan.
Vliegtuigkos is ook nie vir almal nie. Veral nie kieskeurige eters nie, maar ek trek nie sommer my neus op vir ’n gratis ete nie.
Ons land in Windhoek ná 30 uur se reis, staan 25 minute in die doeane-ry, wag nog ’n halfuur vir ons tasse, net om uit te vind dat een êrens verlore geraak het.
Dit is reeds vyf dae later en niemand weet waar die verwaarlose koffer is nie. Sommer met die intrapslag staar ons Afrika-tyd in die gesig en moes ons vinnig vrede daarmee maak.
Nietemin, ons is tuis en tussen ons geliefdes. Die wêreld is weer reg. Weg is die snelwegverkeer, bedompige weer en die ietwat pretensieuse Amerikaners. Hier kan ons biltong eet, braai en snags na ’n hemel vol sterre kyk. Hier kan ons asemhaal, Afrikaans praat en die skildermooi Afrika-sonsak aanskou.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, Amerika het beslis ook sy voordele. Alles is baie vinnig, baie gerieflik en die verskeidenheid is verstommend. Die lewe is so aangepas dat jy nie ’n vinger hoef te lig as jy nie wil nie. Enige iets van kruideniersware, drank, kos of medisyne kan tot by jou voordeur afgelewer word. Daar is selfs karretjies waarmee jy in die winkel kan rondry as jy nie wil stap nie. Nie moeilik om te begryp waarom Amerikaners so oorgewig is nie. Dalk ook omdat meeste kosse ge-“deep fry” is. In Amerika moet jy uit jou pad uit gaan om gesond te probeer lewe.
Die lekkerste ding van Amerika is dat jy enige iets kan wees. Ek verwys nie na die gewilde neiging onder dié bevolking om van geslag te verander nie, nee, ek bedoel niemand oordeel nie.
Ek en my man sê altyd vir mekaar, dit maak nie saak wat jy aantrek of hoe jy lyk nie – jy sal nooit die vreemdste persoon in die vertrek wees nie.
Ek is mal oor ons kultuur en tradisies, maar Afrikaners hou van skinder en om te oordeel. Ek is ook skuldig daaraan, ek sal dit nie ontken nie. As jy hier ’n broekie dra wat te kort is, ’n rok wat te styf is, te veel grimering aanhet of jy het ’n onskuldige paar kilogramme opgetel, dan sal die tannies beslis onderlangs fluister.
Al twee plekke het sy voor- en nadele, maar huis bly huis en Namibië is ’n blerrie lekker plek om huis te noem. – [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie