Van Windhoek tot Uithoek
Nuwejaar in die Groot Appel
Ek wou vanjaar iets besonders vir Nuwejaar doen. Ek is gewoonlik nie ’n aanhanger van skares nie en ek maak gewoonlik nie ’n ophef van Nuwejaar nie, maar so cliché soos dit mag klink, was die New York Times Square Ball Drop op my emmerskoplys.
Die mense, die liggies, die vuurwerke, konfetti, die aftel en die perfekte Nuwejaars-soen – dit is wat drome, en meeste flieks, van gemaak word en ek was gereed daarvoor.
Ek het my man oortuig en ons het net ná Kersfees ons vliegkaartjies bespreek.
Ons moes eers Dallas, Texas, toe vlieg voordat ons ons vlug na New York kon haal. Ons eerste vlug was van Windhoek na Doha, net so agt ure – heel doenbaar – ná twee ure se wag het ons die 16 uur-vlug na Dallas aangepak – minder doenbaar – maar ek het lank reeds die kuns vervolmaak om op ’n vliegtuig te slaap.
Ons bly een aand in Dallas en vlieg eers die volgende dag na New York, of so het ons gedink. Die Amerikaanse lugredery waarmee ons New York toe vlieg, laat weet ons ons vlug is gekanselleer as gevolg van die weer. Ons kan die kaartjies gratis verander, maar die volgende vlugte is eers op 1 Januarie.
Ons sien toe dat daar daardie dag nog een vlug na NY is en hy vertrek oor 2 ure. Terug in ’n Uber en reguit lughawe toe!
Ons maak dit, maar ons het nêrens om te bly nie. Ons bespreek inderhaas die eerste plek wat ons kon kry en dit is sommer lekker naby aan die lughawe. Dit was so 23:00 toe ons land en ’n Uber tot by ons blyplek neem. Dit het ons nie lank geneem om te besef dat dit nie ’n veilige omgewing is nie. Ons Uber-drywer het seker gemaak hy laai ons reg voor die deur af sodat ons nie oor die parkeerterrein na die ingang moes loop nie. Dit was ook die vinnigste wat ek gesien het iemand bagasie aflaai en weer in die pad val.
Dit was gelukkig net vir een aand en die volgende dag is ons vol afwagting op pad na ons hotel in die middel van Manhatten. Die koue het ons nie afgeskrik nie en ná ’n vinnige stop by McDonalds, natuurlik, het ons die stad aangedurf. Ons eerste stop – Times Square!
Die volgende dag het ons so veel plekke van ons lys afgemerk – die Flatiron Building, Grand Central Station, Rockerfeller Centre, St. Patrick’s Cathedral en Central Park. Ons het so ver gestap dat ons nie kans gesien het om al die pad terug na ons blyplek te stap nie en toe stop ons een van die ikoniese geel taxi’s.
Die volgende dag was Oujaar en ná ’n groot ontbyt was ons gereed om Times Square se strate aan te pak en vir ons ’n plekkie voor die bal te kry. Of so het ons gedink.
Ons het ons navorsing gedoen en geweet ons moet vroeg gaan en sodra ons in is, ons nie kos sal kan koop of badkamer toe kan gaan nie. Hulle maak die straat toe en baken blokke af wat hulle vol mense maak; van voor tot agter.
Ons het vyf ure in ’n ry gestaan. Toe ons uiteindelik voor kom, was dit nie meer ’n ry nie, maar eerder net ’n bondel mense. Almal druk om voor te kom. Ons het vir ure teen mekaar gestaan en wag. Ons was so naby aan mekaar dat ek nie my arms kon loskry om die irriterende gejeuk op my neus te krap nie.
My man het probeer keer en beskerm, maar dit was leeuwêreld. Elke keer as die polisie ’n groep mense inlaat en daar ’n gaping voor ons oopgaan, stoot almal van agter af. Ek kon later nie meer asem kry nie. Ons het besluit om die aftog te blaas en ons pad tussen die skare oop te baklei.
Moedeloos, maar dankbaar vir ons lewens, het ons tot by die naaste “Irish pub” gestap en onsself gate uit geniet.
Ons het sowat 11:30 die besige strate ingevaar. Mense het sowaar nog in rye gestaan met die hoop om die bal te sien val.
Ons het agter in die straat ’n staanplek gekry. Ons was omtrent 800 m van die bal af, maar kon die klein kolletjie in die verte sien. Dit het nie lank geneem nie, toe is daar honderde mense om ons.
Die horlosie tel af. Almal se fone is uit. 3 ... 2 ... 1
Ons bevind ons toe tussen die bal en die vuurwerke en kry dit selfs reg om ’n soen in te werk. Ons begin dadelik terug na ons blyplek stap en tussen honderde stappers en dronk Nuwejaarsgangers, was dit nie maklik nie.
Dit was beslis nie die Nuwejaar waaroor ons gedroom het nie, maar dit was spesiaal. So tussen die vreemde plekke, die geraas en die hordes mense – het ons ten minste mekaar gehad.
Ons het op Nuwejaar die Empire State Building besoek en tot op die 86ste vloer gery. Wat ’n asemrowende uitsig oor New York!
Die perfekte einde vir ons besoek en die perfekte begin vir 2023.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie