No Image Caption

Vat die pad en trek, Murphy!

Gerine Hoff
Julle, die afgelope paar weke was rof in ons huishouding... want dit voel vir my alles wat kón breek, het gebreek en dit wat kón verkeerd loop het ook sommer só gemaak.

Maar kom ons begin by die begin. So agt weke gelede het ek my kar se voorruit laat vervang. En raai wat? Skaars drie weke later skop ’n lorrie wat van voor af kom ’n klip op en die ruit moet weer vervang word. Die geluk by die ongeluk is dat die versekering nie issues gehad nie – en selfs die vorige kwotasies kon nog gebruik word.

As dit maar net daar geëindig het. Ek moes dit as simbolies gesien het toe ons stoep se LED’s flouer en flouer geraak het... Met hierdie verdowwing het ons ander elektronika ook besluit om die gees te gee.

Eerste was dit die mikrogolf wat skielik nie meer wou werk nie. Nie eens ’n liggie wat op die skermpie verskyn nie. Net dood. Bygesê, die lig binne in werk al maande lank nie meer nie. Dalk nog ’n waarskuwing? Gelyktydig wys die yskas (die twee kombuisnoodsaaklikhede deel ’n kragprop) ’n rooi alarmliggie. Afgesit en weer aangeskakel, en gelukkig is die yskas weer aan die gang.

Maar daar is geen tekens van lewe by die mikrogolf nie.

Vier-en-twintig uur later is dit die skottelgoedwasser se beurt. Terwyl die water nie wil uitpomp nie, loop dit wel oor die kombuisvloer. En julle sal weet, selfs ’n koppie water wat omgeval het, lyk asof daar ’n waterbom ontplof het. So jy kan jouself indink hoeveel water die vloer bedek het.

Soveel water soos wat daar in die kombuis is, so min water is daar wat deur ons waterverkoeler loop. Die somer is in volle gang en die wolkies is min met geen tekens van reën nie, en die verkoeler blaas net warm lug deur die huis. Dis ongemaklik om die minste te sê. Wat nou? Was die winter te lank? Is die pype verkalk? Wie weet.

Terwyl dit so warm is, hoor ons ’n gepiep. Hierdie keer is dit ons sonkragstelsel se “inverter”. Dié kry blykbaar ook te warm met al die hitte. Gelukkig is dit dieselfde ou wat die inverter en die waterverkoeler kan diens.

Maar nog is dit het einde niet. In ’n poging om ouboet se kamer af te koel, wil ek die blindings toetrek. Ha, sê die heelal. Dit gaan nie werk nie. Daar val die blindings sommer heel uit die skarniere en al die aluminium vinne buig soos wat dit die grond tref. Ashoop toe met jou.

Intussen het die probleme met my kar ook nog nie opgehou nie, want dit blyk ek het ’n slow puncture. Toevallig nie die wiel waarmee ek verlede week ’n sypaadjie getref het nie.

En, laat weet vriende wat agter ons ry, die bakkie se een brieklig wil ook vir een of ander rede nie werk wanneer jy briek trap nie. Ironies né?

Hoe is dit moontlik dat al hierdie dinge binne dae van mekaar gebeur?

Ek skat dis ons vriend Murphy wat weet daar kom aan die einde van die maand ’n klein belasting-meevallertjie wat lyk my nou op huishoudelike “maintenance” bestee moet word eerder as aan ’n lekker massering of ’n paar ekstra dollar wanneer die vakansie uiteindelik aanbreek.

Ek hoop met hierdie skrywe vlieg die ongeluksvoël nou vir minstens ’n paar maande verby ons en dat daar aan die einde van die volgende salaris nog ’n paar sente oor is vir, wel, kos. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!