(Ver)drink in stadsorge
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Issaskar Kapuka – Windhoek. . . die plek wat deur baie as die juweel van Afrika beskryf word en die een klein dorpie op die Afrika-vasteland waarvoor baie mense groot verwagtinge koester, is egter nie so fantasties soos almal sê nie.
Dit is die een dorp waar ’n mens niks anders kan doen as om te gaan sit en drink om van jou sorge soos hoë huispryse, onbillike huur, die sinlose gejaag van GRN’s, misdaad en die leeglêers op die straathoeke te vergeet nie. Deesdae kan ’n mens gelukkig sommer net van Windhoek se water drink om van jou sorge te vergeet. Geen wonder kollega Karel het jare lank sy bes gedoen om uit Windhoek weg te kom nie.
Kyk maar net elke aand hoe lyk Windhoek. In Onafhanklikheidslaan, by ’n bekende drinkplek, staan gewoonlik ’n paar honderd motors op die sypaadjies en op geel strepe en gewoonlik val daar ’n paar manne tussen die motors rond. By ander drinkplekke staan die manne (en vroue) ook almal bankvas agter ’n glas.
Maar soos ek reeds gesê het, elkeen het iets wat hy seker wil vergeet. Bedags verander die prentjie weer. Uit alle dele van Windhoek stroom berigte van huisbrake, diefstalle, moorde en rooftogte in. Om in Onafhanklikheidslaan te loop, is ook ’n risiko.
Oral is leeglêers wat kop onderstebo rondloop en nie een handsak of kamera ongesiens laat verbygaan nie.
Daar is ook diegene wat sommer op enige plek sy of haar “gereedskap” uithaal en urineer, ongeag wie of wat hom sien.
Misdaad is egter die grootste enkele kommer van ’n inwoner van Windhoek. Elkeen dink voortdurend aan die moontlikheid dat iemand dalk besig is om sy huis leeg te dra of sy motor te steel.
Tydens ’n onlangse vergadering van ’n deel van die sakesektor oor die probleem van gewapende roof in Windhoek en omgewing, het een van die aanwesiges voorgestel dat swaarder strawwe vir misdadigers oorweeg word. Hy het selfs voorgestel dat gekyk moet word na die afkap van ledemate as toepaslike straf.
Soos ek Windhoek ken, sal hierdie soort straftoepassing verwelkom word, maar in die geval van mense wat op straathoeke urineer, sal die hoek seker afgebreek word.
Die afgelope tyd het die munisipaliteit van Windhoek ook begin om ’n verbete poging aan te wend om die stad skoon te maak. Dit is verblydend om te sien hoe die strate skoner word en ou geboue opgeknap word. Elke dag is werkers besig om rommel op te tel en in party woongebiede word selfs laaigrawe ingespan. Al waaroor ek wonder, is hoe lank dit so sal bly. Wie gaan sorg dat die strate skoon bly? Wie gaan sorg dat die leeglêers op straathoeke nie meer onskuldige vroue aanval en beroof nie? Onlangs is ’n groot aantal nuwe plastiek vullishouers in die stad teen lamppale aangebring, maar selfs dit word vernietig.
Dit is dus hoog tyd dat almal in Windhoek saamstaan en dan kan ons morsjorse en misdadigers vasvat. Wie weet, dalk kan huiseienaars hul huise dan vir minder verkoop, ander dit vir minder verhuur, die munisipaliteit minder geboue afbreek en woonstelle weer woonstelle maak. Miskien sal ek en baie ander dan weer van die stad kan hou. – 5 April 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie