Chris Jacobie
Chris Jacobie

Vernaam gee ’n kramp

Sê maar net 30 jaar gelede
Chris Jacobie
Daar is weer vernaamheid in die lug.

Namibiërs was van die begin van tyd self gemoedelike mense. Hier was dit nog nooit ’n “ge-meneer” en ’n “ge-mevrou” of ’n “ge-dokter so-en-so” nie. Diegene wat daarop aangedring het, was in elk geval mense met min vriende en afkomstig van vêr en vreemde plekke waar titels en ’n vername houding iemand kon beïndruk en selfs kon geïntimideer het.

Daar is nou selfs vroue wat aandring om op die man se titel aangespreek te word. As die man byvoorbeeld nou ’n dokter geword het omdat hy die gewoontes van die Egiptiese hoenderhaan en die invloed daarvan op die vispopulasie van Hardap-dam bestudeer het, moet sy nou ook ’n mevrou-dokter wees.

Predikante se vroue word nou deesdae maklik mevrou-dominee. En so gaan die lys aan en aan. Dit is hierdie stywerug-houding wat my begin pla. Amper so erg soos daardie stywe pinkie-teedrinkers.

Ek propageer vir geen oomblik dat mense mekaar met minagting en selfs beledigend moet aanspreek nie, hoewel daar ’n hele lot mense is met wie ek nie wil praat nie, aangesien ek nie weet hoe om minagtend genoeg te wees nie. Iets soos “haai” en “hoei” is ook nie goed nie, maar darem beter as “mevrou-dokter”, as die arme vrou boonop daarop aandring.

Vandeesweek was ek twee keer binne supermarkte om die nodige aan te koop in die afwesigheid van my ander helfte wat van my af moes vlug na Otjiwarongo om rus vir haar siel te kry.

By een van die kassiere het ek gewag tot die vervaldatum op die blikkie boeliebief verval het omdat een van hierdie stywerugvroumense haar spog-ritueel vir die kassiere uitgevoer het.

Eers word met ’n verveelde grynslag aan die arme dametjie aangedui dat “mevrou-dokter” elke item in ’n aparte verpakking wil hê, want kaassmeer en vismeer meng nie, terwyl die moontlikheid ook bestaan dat die botteltjies kan breek as hulle teen mekaar kap in die geruislose weeldemotor.

Dan word daar met handbewegings wat herinner aan ’n balletdans, rondgekrap vir ’n pen en ’n tjekboek in ’n egte leeromslag. Ten spyte daarvan dat die tjeklimiet R200 is, skryf “mevrou-dokter” haar R400-tjek uit.

Sy vererg haar bloediglik toe die kassiere verduidelik dat sy nie die limiet kan oorskry nie en dreig met stappe deur ’n minister, want hulle is huisvriende. Dan met stappe teen die besturende direkteur van die kettingwinkel in Johannesburg, met die streekbestuurder in Namibië en uiteindelik vertel sy die dametjie dat sy en haar baas hul werk kwyt sal wees. Glo omdat daar ’n mosie van wantroue in haar is oor die R400-tjek!

Sy kan nie verstaan dat ’n bankrekening persoonlik is en dat die kassiere onmoontlik kan weet wat daar aangaan nie. Nog erger is dat die kassiere ook koerant lees en weet dit is nie armes wat by winkels steel nie, maar ook rykes.

Wanneer die kassiere uiteindelik in trane is, los “mevrou-doktor” haar 117 items op die toonbank en laat spat met verdere beloftes van ekonomiese sanksies deur al haar “invloedryke vriende” in die sport-, ekonomiese en kulturele kringe.

Dit is ook hierdie spul wat ek vanoggend by die Kabinet sal aanbeveel dat ’n wet op die bevordering van gemoedelikheid as ’n saak van dringendheid deur die parlement uitgeroep moet word.

As Namibiërs nie na die ou weë wil terugkeer nie, moet hulle daartoe gedwing word.

Dit is seker! – 2 April 1992

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!