Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

Vlerke van vriendskap

Gerhardus van Grootfontein – Ek kyk na die wolke. Ons vlieg oor Somalië. Ek is op pad terug Sjina toe vir die volgende semester se werk. Die wit wolktorings ontlok heimwee en verlange na mooie Namibië en my geliefdes daar. Elke wolk is ’n merker van nog afstand wat afgelê is. Verder en verder.

Langs my op die vliegtuig is Karel, my beste vriend van varsity. Hy werk ook in Sjina. Tussen ons twee is wêreldkrisisse al opgelos in koffiewinkels, op grasperke en tussen golwe in die see.

Vandag drink ons gin en tonic hoog in die lug, ruil stories uit, en ontrafel dinge en idees. Elke gesprek salf die heimwee. Ek kyk weer na die wolke. Sien opwinding en ’n lewe wat wag om hervat te word. Dit kom al nader en nader.

Dit is Saterdagaand. Ons het met die trein in Dalian aangekom. Twee ander vriende, Mahu en Du, het ons by die stasie kom optel. Hulle help ons met die bagasie. Ek reis soos ’n slak met my hele huis op my rug, so die hulp is welkom. Dit is baie koud en die twee Sjinese vriende is besorg oor ons somerskleredrag uit Afrika.

In die motor sit Mahu lekker rustige musiek aan.

“Het julle al geëet?” vra Du. “Nee,” sê Karel.

Mahu verduidelik: “Julle moet nou noedels eet – dit is tradisie in noordelike Sjina om noedels te eet wanneer jy in ’n plek aankom. Dan is jou tuisgaan voorspoedig.”

“Wanneer jy vertrek, eet jy dumplings,” las Du by.

Die stad word al hoe meer bekend. Ek herken die geboue en kort daarna ry ons oor die lang seebrug na die deel waar ek woon. In die motor ervaar ek ’n huislikheid wat nie gekoppel is aan spasie nie, maar omgee en kameraadskap. Die mense saam met wie jy jou lewe deel, het die vermoë om ’n omgewing te laat frons of te laat glimlag.

“Ja, ons kan noedels eet,” sê ek.

Mahu en Du kyk speels na mekaar. Ons laai eers ons bagasie by ons onderskeie huise af. Daarna is ons na ’n restaurant toe wat ’n “weermagpot” bedien. Dit is groente, vleis en noedels in ’n pikante warm sop. Dit is ’n gereg wat perfek is vir die koue winter.

Ons klink ons glasies bier, deel ernstige ervarings en lag hardop. Lang stringetjies noedels word opgeslurp – simboliese voorspoed in mekaar se geselskap. Ek waardeer die oomblik en die wete dat ek behoort. Ek voel tuis.

Plato reken dat vriendskappe nie net aan emosionele en sosiale behoeftes moet voorsien nie. Die ou Wyse erken dat vriendskappe plesier inhou en met reg, maar hy slaan die hoogste waarde aan dit wat dit vir die siel bied. Hy voer aan dat die siel bevorder word wanneer vriende die mooi en goed in mekaar sien. Dit versterk konneksie en sodoende beweeg vriende saam na ’n beter en ryker lewe. Gevolglik transendeer die vriendskaplike vreugde van ’n aardse realiteit tot ’n geestelike realiteit.

Ek weet die stukkie filosofie kan bietjie swaar voorkom, maar ek vind dat die wyshede van ons ou-denkers baie waarde inhou. Vriende, volgens my, moet nie net mense wees met wie jy tyd spandeer of ’n bier drink nie. Dit is mense wat die ongemak van (vriendskaplike) verhoudings saam met jou aandurf. Uit ongemak en oop gesprekke spruit emosionele groei. Vriende laat jou soos ’n miljoen dollar voel, maar is ook krities wanneer jy beter kan doen.

En, natuurlik, vriende omskep die vreemdste plekke in die wêreld in die gemaklikste tuistes. Hulle lig jou voete hoog bo die klipperpad. Soms met ’n gin en tonic en ander kere met noedels.

Soos Anneli van Rooyen sing: die lewe is om op vlerke van vriendskap te swewe. Sonder vrae, sonder sorge.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer