Vreemd – maar tog ook nie vreemd. . .
René Hugo
Ek is ’n tweedehandse Namibiër. Dit beteken dat ek nie in Namibië gebore en getoē is nie. Maar ek is al vir die afgelope 15 jaar in hart, siel en liggaam ’n ware Namibiese burger.
Ten spyte van my liefde vir hierdie land en sy mense, is daar tog dinge wat my tweedehandse oog vreemd opval. . .
Namibiese huise het nie broodmesse nie. As mens ’n brood wil koop, is hy aljimmers gesny – in dun repies saamgeperste stysel. Sodoende is die enigste toebroodjies wat jy moontlik kan maak dié wat die Britse adel saam met hulle middagtee geniet: fyn komkommer-driehoekies wat net een hap werd is. En roosterbrood is meestal harde, uitgedroogde teleurstellings.
’n Mens streef ook verniet na daardie lekker smul aan ’n dik broodkorsie toegegooi onder ’n ewe dik homp botter. Vergeet maar om vir die winkelassistent te vra vir ongesnyde brood: hulle staar jou met onbegrip en selfs meerderwaardigheid aan.
Gebore Namibiërs het ’n eienaardige benadering tot afstand. Die pad vanaf Keetmanshoop of Grootfontein na Windhoek is glad nie vêr nie. Mense ry sommer maklik die honderde kilometers vir ’n musiekfees in Windhoek.
Of om die jaarlikse Windhoek-skou en die Outjo Wildfees by te woon. Maar tussen Olympia en Klein Windhoek (of as jy in Swakopmund is, tussen Ocean View en Kramersdorp) is dit baie ver! As jy in Olympia woon moet jy ’n Olympiaanse plaaslike dokter, tandarts, skool en haarkapper hê. Sewe kilometer na die volgende voorstad is heeltemal te vêr!
Soos ek as nuwe Namibiër, nuwe kennisse raakloop, en aan nuwe (ouerige) tydgenote voorgestel word, ontdek hierdie tweedehandse Namibiër ’n ander vreemde ding. Tydens die eerste gesels, en in ’n poging om kontakpunte te kry, sal ek dikwels stellings maak soos: “Ek wonder of jy dalk vir Koos, Piet of Klaas ken? Ons het hulle ook ontmoet en hulle is min of meer ons ouderdom. . .”
Feitlik deurgaans sal die antwoord dan kom: “Ja ek ken hom goed. Ons was saam op skool.” Wat my laat wonder: is daar dan net een skool in Namibië? Want dit is vir my duidelik dat almal daar skoolgegaan het!
Namibiërs is wonderlik diep geborge in hulle land. Dit is asof hulle en hulle omgewing ’n bekende eenheid vorm. En hierdie eenheid kom veral tot uiting in die feit dat Namibiërs op ’n eie manier pad beduie.
Hulle is só gewoond aan ’n gevestigde gemeenskap en bekende omgewingstrukture soos geboue, riviere en koppies, dat hulle glad nie kan verstaan as iemand anders nie weet waar die bekende landmerke is nie. Daarom het die onverwagse bordjie voor ’n huis vir my sin gemaak: Mein Haus inst Mein Welt, Gluck auf Wenn's Drinn Gefallt.
Dit was ook nie vir my vreemd toe ek eenmaal as volg beduie is: “net oorkant daarie geel kafee wat eers ’n groen verfwinkel was!”
Wat verder interessant was, was dat hierdie tweedehandse Namibiër maklik die plek gekry het. . .
Jare gelede – voor ons Namibiese lewe – het ons ’n baie dierbare staffie-hond gehad. Hy was ons seunskind se grootste speelmaat en kameraad. Ongelukkig het hy ook mettertyd die tydelike met die ewige verwissel. In die hondlose tydperk daarna het ’n vriend hul tweejarige hond aangebied. Dit was ’n oulike hond en ons het die aanbod sterk oorweeg. Ons tienjarige seun het egter botweg geweier: “Ek wil nie ’n tweedehandse hond hê nie!”
Gelukkig is my ervaring met Namibiërs heel anders. Hulle het hierdie tweedehandse Namibiër hartlik verwelkom en deel van die gemeenskap, die dorp en die land gemaak. Tweedehands ja, maar trots en dankbaar om ’n volbloed eersteklas Namibiër te wees.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie