Waak, maar waag niks
Sê maar net 30 jaar gelede
Gene Travers – Een van ons staatspresident se lyfwagte stop nou onlangs hier om die draai langs my by ’n verkeerslig op sy motorfiets. Dit was die eerste keer wat ek ’n kans gehad het om so ’n lyfwag van naby te beskou. Hulle flits gewoonlik so vinnig by jou verby dat jy nie mooi kan sien hoe hulle lyk nie.
Die man se uniform was baie netjies en die motorfiets het geskitter in die son. Ek het hom geskat op ’n ouderdom van sowat twintig jaar en die stewels wat hy aangehad het, het my laat dink aan die ou Duitse weermag se skoeisel. Dit het vir my gelyk asof die swaar pistool wat hy aan sy sy gedra het, hom so effens skeef trek.
Ten spyte van die feit dat hy ’n baie netjiese persoon was en dat sy uitrusting baie imponerend was, het ek by myself gedink dat, sou ek ooit eendag ’n staatspresident word, ek hom nie as ’n lyfwag sou wou hê nie. Ek glo dat, sou hy op ’n dag my lewe moes beskerm, hy eerstens oor sy eie stewels sou val en tweedens nie daardie groot pistool betyds uit die skede sou kry nie.
Ek dink in elk geval dat lyfwagte deesdae meer ’n soort van ’n statussimbool geword het. Ek kan nie dink aan enigiemand in Namibië wat ons vriendelike staatspresident wil doodmaak nie.
My gedagtes het teruggeflits na baie jare gelede toe ’n ander regering se “leiers” ook lyfwagte gehad het.
In daardie stadium het “toordokters” na bewering mense uit hul huise in Katutura “getoor” om vir hul kliënte behuising te bekom.
Die huise was glo deur onsigbare geeste onder die klippe gesteek en dit het later so erg gegaan dat die spokery op ministersvlak ondersoek moes word. Die minister van daardie tyd het ook met ’n groot gedruis en vier lyfwagte by die huis in Katutura opgedaag.
Die blink swart motor en die minister in sy pragtige pak klere het baie aandag getrek en in ’n ommesientjie het ’n groot skare mense om die huis waar dit gespook het, saamgedrom. As verslaggewer het ek die hele petalje mooi dopgehou en kon sien dat die betrokke huis voos gegooi was met klippe. Ek weet tot vandag toe nog nie of dit spoke of tokkelossies was wat dit gedoen het nie.
Die minister en sy lyfwagte is die huis toe binne om die spokery te ondersoek. ’n Ander toordokter is ingeroep om die spoke uit die huis te spook. Dié toordokter se ritueel het later langdradig geraak en my begin verveel. Ek het so stilletjies ’n klip opgetel en dit op die huis se dak gegooi. Toe was daar konsternasie. Die minister, die toordokter en die ander nuuskieriges wat in die huis was, het by die deure en vensters uitgebars asof die hel los was.
Wat vir my opmerklik was, was die feit dat die minister se lyfwagte los voor hom uitgehardloop het. Ek sal nooit vergeet hoe hul oë soos pierings in hul gesigte gestaan het nie.
Met die dat die toordokter, die minister en sy lyfwagte soos verskrikte hase by die huis uitpeul, het die skrik ook die skare ingevaar wat om die huis saamgedrom het.
Ek het daardie dag met my eie oë gesien hoe ’n doringdraad-omheining plat gehardloop word asof dit nie bestaan nie.
As ek reg kan onthou, het die minister se lyfwagte later te voet in Windhoek opgedaag.
Nou vertel ’n maatjie van my, wat in Natuurbewaring diens gedoen het, van die hooggeplaaste minister se vrou en haar vriendin, wat die vrou van ’n ander hooggeplaaste besoeker aan ons land was, nou onlangs deur natuurbewaarders aan die kus vergesel moet word.
Die twee vroue is ook deur ’n horde lyfwagte opgepas en in ’n stadium het hulle op ’n slapende rob op die strand afgekom. Volgens my vriend die natuurbewaarder was die rob vas aan die slaap en die twee dames het hom van nader beskou. Stoute kabouter wat my vriend die natuurbewaarder is, gooi hy die slapende rob ook skelmpies met ’n klippie. Die rob het volgens hom wakker geskrik met ’n luide snorkgeluid. Die twee waardige dames het voete uitgepak in die rigting van die binneland. Wat ook daar opgemerk is, vertel my vriend vir my, was die feit dat die dames se lyfwagte los onder hulle uitgehardloop het.
Ek dink dat sou ek ooit eendag ’n hooggeplaaste of ’n minister word, ek maar liewer self my lewe sal beskerm. – 17 Februarie 1993

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie