Waarom dié dag rooi verf?
Ek sê maar net (30 jaar gelede)
Gert Kruger – Môre is Valentynsdag. Veronderstel om vir baie dié mootste dag van die jaar te wees. Rooi angeliere, rooi hartjies, rooi kaartjies, rooi dit en rooi dat. Die dag wanneer elke Romeo geheimsinniglik ’n blykie van sy liefde aan ’n Juliet belowe en andersom.
Waarom alles op dié spesifieke dag rooi moet wees, weet nugter alleen. Vir my is die kleur rooi die vereenselwiging van gevaar. Toentertyd (dalk vandag nog?) wou almal ’n rooi Ferrari ry want dit was (of is) die versinnebeelding van spoed en spoed spel gevaar. Die stiervegters van Spanje gebruik ook ’n rooi doek om die bulle kwaad te maak. Net so word gepraat van bloedige gevegte tydens oorloë en bloed is tog rooi.
Miskien het die uitvinders van Valentynsdag iets in gedagte gehad toe hulle die kleur rooi gekies het. Dalk het hulle aan die blommewinkels gedink toe hulle die kleur rooi gekies het, want rooi in die blommewêreld kan so skaars soos hoendertande raak.
Hulle het seker gemeen as ’n mens werklik so behep met iemand is dat op geheimsinnige wyse uitdrukking aan dié gevoel gegee moet word, die behepte persoon maar sy sak kan skud.
Miskien het hul keuse op rooi geval omdat dit so ’n helder kleur is. Van ver af kan almal sien dit is Valentynsdag. Dalk het hulle aan al die sadistiese grapmakers gedink en gemeen dit sal die sulkes groot plesier verskaf om by elke kantoor se voordeur te wag en te sien wie kry ’n blom of geskenkie van ’n geheimsinnige bewonderaar en die ontvanger dan heeldag daaroor te pes.
Dalk het hulle gedink aan al die ontvangers van blomme en geskenkies op dié dag. Rooi word mos ook vereenselwig met warmte. Dit was waarskynlik hul uitgangspunt dat die eensames op die dag lekker warm sal voel as hulle ’n rooi angelier of enigiets dergeliks ontvang.
Wat die uitvinders se motiewe agter Valentynsdag was, sal moeilik wees om te bepaal. Om te bespiegel daaroor, kan dalk veroorsaak dat die dag sy kleur verloor.
Wat ek wel weet, is dat ’n eienaardige spesie hier op aarde dag vir dag soos muishonde van die samelewing voel. Hulle word elke oggend (eintlik deurgaans) met telefoonoproepe oorval oor die een wat daaroor wil kla en daardie een wat dreig met dit. En eintlik het hulle ’n vreeslike belangrike taak om so tussen Valentynsdag deur te verrig. Hulle moet inlig, hulle moet opvoed, hulle moet vermaak en hulle moet oorreed.
’n Bek vol, sal u sê. Juistement, sê een van die hooflyers van dié spesie.
Daarom sal ons verslaggewers môre die aflewerings, pos en telefone dophou om te sien of daar nie ’n verrassing of twee is nie.
– 13 Februarie 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie