René Hugo
René Hugo

Wag is nie maklik nie

Sanet Pearson
René Hugo – Hierdie week was ek lus om iets oor die doen en late van mans en/versus vrouens te skryf. Maar my kop haak aanmekaar vas. En toe kom ek onverwags op iets af wat manlief geskryf het – so in my kraal!

Dit is ’n soort bekentenis, of liewers ’n kopskuif, as hy skryf:

In een van Windhoek se voorstede, by ’n winkelsentrum, is daar ’n karwag. ’n Lang vriendelike kêrel, baie behulpsaam, dra ’n donkerbril en groet altyd. Ons ken mekaar al, en so oor die tyd het daar ’n soort vrienskap ontstaan. Hy sê dikwels dat, om ’n karwag te wees, is nie maklik nie. Veral in Windhoek as die somerson so bak. Netso is dit nie vir my maklik om geduldig in ’n kar te sit en wag nie. Op grond van hierdie gesamentlike wag-swaarkry het ’n vriendskap gedurende baie gedeelde ure en geselsies in die parkeerterrein ontstaan.

Die “in die kar sit en wag” kom al vyftig jaar vêr. As pasgetroude nooi my bruid my om saam winkel toe te gaan.

“Ek wil gou ’n rokkie vir jou kantoor se Kerspartytjie koop.”

Ek gaan saam, soos ’n lam ter slagting, en drentel deur eindelose winkels – die een fraai rokkie na die ander. Volgens Vroulief “pas hierdie een se kleur my nie”, of “daardie een is nie ek nie”. Niks is geskik nie en ek verstaan naderhand waarom winkels ’n luukse leunstoel vir die wederhalf se gerief daarstel.

By die huis gekom is ons al twee lekker dikbek – weliswaar om verskillende redes. Ek besef dat hierdie ding wat ’n huwelik is, nie maklik is nie. Hier moet ’n plan gemaak word. Ek onderneem plegtig: Ek sal jou nooit weer irriteer as jy inkopies doen nie. Ek gaan nooit weer saam nie. Nooit nie! Dit maak nie saak wat gekoop word nie. Ek sit liewers in die kar en wag.

So sit ek werklikwaar weer vandag in die kar en wag. Byna al 45 minute lank.

“Wimpie, net ’n paar goedjies vir die huis – ek sal nie lank wees nie,” het sy belowe.

My duime trommel op die stuurwiel, my gemoed is donker en my bloeddruk is deur die dak. My vriend die karwag het ’n simpatieke oog. Hy stap nader en begin gesels. Ek maak of ek nie lus is vir praat nie en bars sommer uit: “Ek is nou doodmoeg! Ek gaan nou ry en haar net hier los. En nooit weer terugkom nie.”

My vriend kyk my medelydend aan en sê kalm: “Meneer, dit is nie so maklik om ’n vrou te los nie. Meneer weet mos ’n man kan nie sonder ’n vrou klaarkom nie.”

“Wat praat jy man?!” kap ek terug. “Die wêreld is vol vrouens, ek soek net vir my ’n ander een wat nie so draai nie.”

“Nee, Meneer,” sê hy ernstig. “Dis glad nie so maklik om ’n ander vrou te vat nie. ’n Mens weet nooit wat jy kry nie. Hoe sal jy weet of die ander een reg is vir jou? Miskien kan sy vinnig koop, maar ook vinnig geld uitgee. . .?!”

“Man,” toets ek hom, “Jy praat maklik. Seker omdat jy nie ’n vrou het nie?”

“Nee, Meneer. My vrou en kinders is in Ovamboland. Ek ry een keer elke maand met die bus soontoe vir ’n paar dae. Dan vat ek vir hulle geld en eetgoed. Hulle wag daar vir my. Maar as ek terugkom is dit baie swaar om alleen te wag tot die volgende maand.”

Terwyl ek nog half verwonderd na hom kyk, kom my dierbaarste uit die winkel, swaar belaai met pakkies en sakke. Met ’n ligter gemoed en sonder om te huiwer, help ek dra en inpak. En hou selfs die deur oop dat sy kan inklim

Toe ons ry, gee ek my vriend die karwag ’n stywe fooitjie. Nie oor die kar oppas nie, maar oor die huweliksberading en die verligting van my gemoed. Ek besef nou om in die kar te wag is nie maklik nie, maar dit is baie makliker as om alleen te wag vir ’n dag of twee in Ovamboland.

Noudat ek die stukkie van my man filosofies gelees het, besef ek dat ’n vrou ook maar rustig moet wag – ’n man sal wel van besluit verander!

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!