Adam Hartman
Adam Hartman

Wanneer die Swakoprivier die see ontmoet

Adam Hartman
Daar is dinge in die lewe wat jy net een keer sien en onthou. En dan is daar dinge wat elke nou en dan gebeur, maar tog elke keer soos die eerste keer voel. So is dit met die Swakoprivier wat die see bereik.

’n Mens moet verstaan – dis nie elke jaar dat die Swakoprivier dit tot by die Atlantiese Oseaan maak nie. Maar wanneer dit gebeur, is dit asof die hele Swakopmund op sy voete is. Dis nie ’n amptelike vakansiedag nie, maar dis ’n gebeurtenis wat meer mense bymekaarbring as menigte feeste. Dis ’n ding van die hart.

Die rivier begin ver in die binneland – daar by Okahandja se wêreld – en kronkel oor 300 kilometer se droë wêreld. Dit verg meer as net ’n paar druppels reën om daardie water tot by die kus te kry. En dit kan dae neem. Die Khanrivier moet eers vloei, die Swakopdam moet ’n paar keer oorloop, en dan moet daar nog steeds genoeg momentum wees om deur die sand en die tamariskbosse te druk. Dis nie ’n maklike pad nie.

Maar wanneer dit gebeur, wanneer mense op WhatsApp-groepe en Facebook begin sê –“Die rivier is by Usakos!” of “Hy het Goanikontes bereik!” – dan weet almal: die water is op pad. Foto’s en video- en hommeltuigmateriaal begin “viral” te gaan as bewyse... (Dis kan ’n probleem wees op April Fool’s Day – soos hierdie jaar). Jy voel dit in die dorp. Ouens klim in hul bakkies, kinders begin vra vrae en die mense stroom af see toe – af na die strandmeer.

Kinders grawe ’n sloot vanaf die strandmeer tot by die see met hul hande en plastiekgrawe. Later sluit die ouers en oumas en oupas by hulle aan om te help. Almal werk saam. Dit neem tyd, maar niemand kla nie – dit is soos ’n seremonie.

Die oomblik wanneer die eerste stroompie deurbreek en die see bereik, word daar gejuig. Mense klap hande, daar word gelag en almal is opgewonde. Jy mag dalk dink dis net water – maar dis nie. Dis hoop wat vloei. Dis ’n gemeenskap wat saam iets groter as onsself vier.

Dis ’n herinnering dat dinge altyd ’n uitweg vind. Al vat dit lank. Al lyk dit soms of niks vorentoe beweeg nie. Daardie rivier loop – met krag en geduld. En uiteindelik breek dit deur.

Vanjaar het dit weer gebeur – vir net ’n dag of twee, maar dit was genoeg. Daardie oomblik is alles werd. En toe hou dit weer op. Maar die oë bly op die hemele gerig. Die ore luister na die donderweer ver anderkant die berg. En die hart weet – hy sal weer loop; dalk nie nou nie, maar eendag sal hy.

Dis dalk net ’n rivier. Maar vir Swakopmunders is dit meer as net dit. Dis ’n teken. Dis lewe. Dis iets om oor te praat. Om aan vas te hou.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Callie Opperman 3 Dae Gelede 09 April 2025

Skitterende rubriek. Geluk daarmee, Adam.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer