Wanneer jy ’n fout maak
Die Kanadese joernalis en skrywer Malcolm Gladwell het in sy nuutste boek, Revenge of the Tipping Point, dit wat hy in sy eerste boek, The Tipping Point, gesê het nagegaan en tot die gevolgtrekking gekom dat hy byna ’n kwarteeu gelede ’n fout begaan het.
Gladwell het toe, soos wat daar van baie min mense gesê kan word, sy fout erken. Eerder as om dit saggies in een dagblad met net ’n paar lesers te publiseer, het hy sy foute aan die groot klok gehang en ’n TED-praatjie daaroor gedoen, dit op sy sosiale media adverteer en Gladwell het selfs in verskeie onderhoude op podsendings en televisieprogramme sy fout verkondig.
Die feit dat Malcolm Gladwell ’n fout gemaak het, het groter nuus geword as die boek wat hy oor hierdie einste fout geskryf het.
Gegewe die grootste kritiek van Gladwell is dat hy sonder voldoende inligting tot gevolgtrekkings kom, sou jy dink hierdie fout bewys die kritici reg.
Hulle gaan hom nou vir ontbyt eet en hy kan sy enige hoop van ’n goeie reputasie op sy magie skryf en met sy hempie afvee, nê? Nee. Gladwell is eerder vir sy eerlikheid geprys en het respek met sy regstelling verdien.
Op ’n podsending met die sielkundige Adam Grant (die skrywer van Think Again: The Power of Knowing What You Don’t Know), verduidelik Gladwell dat jy diegene wat ontstig is deur jou oorspronklike stelling in ’n mate toestemming gee om hul klagte teen jou weg te bêre wanneer jy om verskoning vra.
Kort nadat ek daardie podsending geluister het, moes ek iemand by ’n staatsinstansie bel oor bewerings van swak dienslewering.
Hierdie bron het toe gesê nee, hulle is nie bewus van die kwessies wat verskeie van hul gebruikers aangemeld het nie.
’n Hoofpyn het in daardie oomblik van iewers diep binne-in my tot op my voorkop geklim – ek weet nie of dit net die blatante, siellose ontkenning was of hoe hard ek my oë gerol het oor die ontkenning wat dit veroorsaak het nie.
’n Paar dae later sit ek voor ’n hooggeplaaste amptenaar in ’n ander staatsinstansie by ’n mediakonferensie.
Die joernaliste vra oor die beweerde mislukkings van die instansie se voetsoolvlakpersoneel – van die misbruik van hul poste, tot die bejaardes wat moontlik deur sy instansie se wangedrag beseer is – en daar was nie ’n enkele ontkenning nie.
Al wat die persoon vir byna ’n uur lank gesê het was “ja, ons het gehoor en ek het persoonlik opdrag gegee dat dit reggestel word”, “ja, dit is ’n probleem, ons sal daarna moet kyk” en “ja, ons het nie genoeg kapasiteit nie, maar ons doen wat ons kan en kry hulp van elders”.
Raai vir wie het ek meer respek. Raai wie se boeke wil ek eerder nagaan om te bepaal of alles reg bestee is. Raai wie sal ek in die vervolg glo as hulle vir my nee sê.
In ’n ander episode van Adam Grant se podsending praat die skrywer Rachel Botsman, een van die voorste navorsers en sprekers oor vertroue, oor die twee pilare waarop vertroue gebou is – bekwaamheid en betroubaarheid. Met ander woorde, wat mense vertrou jy kan doen en hoe gereeld jy doen wat jy sê jy gaan doen.
In haar gesprek met Grant deel sy dat ’n belangrike aspek van eersgenoemde pilaar is om te kan erken wanneer jy nie goed is in iets nie. Dit skep die vertroue dat jy weet waarmee jy goed is en daarom kan jy vertrou word om iets goed te doen wanneer jy sê jy kan.
Meer as die vertroue en respek wat ’n instansie kan bykry wanneer hy sy foute erken, dink ek skep dit eenvoudig die moontlikheid vir verbetering.
Wanneer ons nie ons foute aan onsself of ander erken nie, sal dit nooit vir ons nodig wees om daaraan te werk nie, want solank ons dit nie raaksien nie, hoef dit nie te bestaan nie.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie