Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Wanneer menslikheid voorgeskryf word

Iréne-Mari van der Walt
Ten spyte van al die negatiewe konnotasies aan die “woke”-stempel, moet ek ongelukkig erken ek mag dalk ook ’n bietjie woke wees – en ek moet bieg die meeste daarvan is omdat ek lui is.

As ’n transgender-persoon vir my sou sê hulle is ’n hy en nie ’n sy nie, sal ek te lui wees om te stry, en nog minder sal ek krag hê om te kyk. Ek gee eenvoudig net nie genoeg om om vir iemand anders te sê wie hulle is en nie is nie. Ek weet nie wie hulle is nie. Hoe moet ek weet?

Onlangs toe die transgender-gemeenskap ontsteld was oor uitlatings wat die Amerikaanse komediant Dave Chapelle glo gemaak het oor transgender-persone, het ek my luiheid en my wokeheid vir eers laat vaar. Ek het self die komedieprogram waarin Chapelle die beweerde uitlatings gemaak het gekyk en het niks meer gevind as ’n man wat sy ervaring van ’n geliefde transgender-vriendin deel nie.

Sou jy die meerderheid van die ontstelde siele in die kommentaar vra wat presies Chapelle kwytgeraak het wat hulle so ongelukkig gemaak het, sou jy waarskynlik nie ’n antwoord kry nie.

Dit is die probleem met die woke-gier. Dit is natuurlik gebou op die suiwerste bedoeling wat net goed vir ander ingehou het, maar iewers langs die pad het dit ’n kompetisie geword.

Die soeke na wie die beter woke-persoon is, het later gelei dat daar van die oorspronklike doel afgewyk is. Nou kyk ons eerder hoe erg ons mekaar kan verkla in die kommentaarboksie en op die rooitapyt uithaal oor wat polities korrek en nie korrek is nie, eerder as om daardie goeie bedoelings wat ons oorspronklik gehad het, uit te oefen.

Ek dink ons het verkeerd gegaan toe ons probeer het om ’n gids vir menslikheid te skryf.

Emsie Schoeman het dalk ook iewers met haar boek oor etiket in dieselfde lokval getrap toe sy begin skryf het oor hoe onbeskof dit sou wees om jou handsak aan dié kant te sit eerder as aan daai kant.

Van ons sit sommer maar net ons handsak op die vloer neer, want om liewe tannie Ems se reëls te onthou, is ’n taak waarin ek nie dink ek sal kan slaag nie.

Onlangs het iemand gevra of ek tannie Ems se boek gelees het en ek verduidelik ek het nog nie. Hulle sê toe ek volg glo die voorgeskrewe reëls oor hoe om ’n handsak korrek neer te sit; sommer van nature.

Ek dink juis maniere, en tot ’n mindere mate etiket, kom natuurlik. Mens weet sommer net waar om die handsak te sit en om vir ander te glimlag as jy groet – niemand hoef dit te sê nie.

Ek glo ook jy weet wie iemand anders besluit hulle is of wil wees, of wil liefhê, het regtig niks met jou te doen nie en is dus nie die argument werd nie.

Eers toe goeie maniere en etiket voorgeskryf word, het ons begin skinder oor ander se maniere en etiket (skinder is nie goeie maniere en etiket nie), en so ook het ons tonge eers begin klap (tongklap is ook nie goeie maniere en etiket nie) oor iemand anders se aktivisme toe aktivisme voorgeskryf is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!