Gerine Hoff
Gerine Hoff

Wanneer Murphy aan die werk is

Gerine Hoff
Kyk, as jy een van daardie mense is wat glo in “Murphy’s Law”, dan weet jy beslis dat enigiets wat moontlik verkeerd kan gaan, wel so gaan gebeur.

Hoeveel keer het dit nie al gebeur nie: Jou lekker warm roosterbrood gly van die bord af en land botterkant op die vloer; die geiser wil nie op die koudste dag van die jaar werk nie; jy’s haastig en elke liewe verkeerslig dwing jou tot stilstand; of – beste van alles – die ry wat jy gedink het is die kortste in die winkel, vat nou die langste.

As jy dink dis ’n nuwe ding, dink weer: Die stelling “wat kan gebeur, sal gebeur”, word toegeskryf aan die Griekse filosoof Diodorus, maar ongelukkig is sy werke verlore.

As jy kyk na die geskiedenis van Murphy’s Law, is daar verskeie interpretasies van die gesegde gevind wat uit die vroeë 19de eeu dateer. Maar dit het eintlik eers “gewild” geword toe Edward Murphy, ’n ingenieur wat aan ’n projek by die Edwards-lugmagbasis gewerk het, ’n tegniese fout gevind het wat deur een van die junior tegnici gemaak is. Hy het blykbaar toe gesê: “As daar enige manier is om iets verkeerd te doen, sal hy dit regkry.”

Eina

Dr. John Paul Stapp, wat by die projek betrokke was, het Murphy se woorde opgeteken van die universaliteit van probleempies wat mag opduik, is toe deur Stapp “Murphy’s Law” gedoop.

Veel later, in ’n mediakonferensie, toe verslaggewers vir Stapp gevra het hoe hulle ongelukke vermy het, het hy genoem dat hulle Murphy’s Law toegepas het, wat hulle gehelp het om klein, algemene foute te vermy. Daarna het die logika agter die wet vinnig versprei en só is die spreekwoord gebore.

Murphy se wet word eintlik ondersteun deur ’n aanvaarde natuurwet: entropie. Entropie is ’n maatstaf van wanorde en dit beïnvloed alle aspekte van ons daaglikse lewens. So, hoe meer wanordelik iets is, hoe meer entropies beskou ons dit.

Blykbaar is daar “wette” wat nog erger is. ’n Ene emeritus professor Hand van die Imperial College Londen, het destyds gemeen “Sod’s Law” is ’n meer ekstreme weergawe van Murphy s’n, naamlik dat enigiets altyd verkeerd sal loop én met die ergste moontlike uitkoms.

Dan is daar die chaos-teorie wat sê sommige dinge sal uiteindelik altyd verkeerd loop. Maar dié teorie is meestal gemoeid met dinamiese stelsels terwyl Murphy’s Law werk met allerlei lewensomstandighede. In teenstelling, kan Murphy se wet jou help om jou beheer oor sekere situasies te gee.

In werklikheid is Murphy’s Law natuurlik glad nie op feite gebaseer nie. Die wet van gemiddeldes maak positiewe en negatiewe uitkomste ewe waarskynlik.

Ten slotte, is daar darem ook Yhprum se wet – absoluut die teenoorgestelde van Murphy se wet. Die eenvoudige formule van Yhprum se wet is “Alles wat kan werk, sál werk”. En net ingeval jy dit nie raakgesien het nie, “Yhprum” is “Murphy” agterstevoor geskryf!

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer