Wanneer ons politieke spoke najaag
’n Opgevoede bevolking kan maklik regeer word. . . as die regering reg is.
“Maar ons het nie vir die nuwe president gestem nie – hy moet uit!” Die inswering van Nangolo Mbumba as die vierde president van Namibië na die afsterwe van Hage Geingob is ingevolge deel vyf van die Grondwet gedoen. Deel vyf, artikel 29, subdeel vier, punt A van die Grondwet, sê duidelik dat die president se posisie gevul sal word indien hierdie pos binne een jaar van ’n geskeduleerde verkiesing vakant word.
“Nou wie het gesê juis Mbumba moet president word?” Artikel 34 van daardie selfde wetsbepaling nomineer vier poste as moontlike opvolgers van die president – die visepresident is heel boaan die lys.
“Hoekom teken die Grondwet dan demokrasie weg?” Ons kan skaars elke vier jaar ’n verkiesing hou. Wil jy regtig sien hoe ons verkiesing sal lyk as hy binne 90 dae aanmekaar geflans is? Nee dankie, sê die gansie.
En terloops, het jy tydens die laaste verkiesing gestem? Was jy reeds van plan om in die volgende verkiesing te stem voor Hage se ontydige dood? Of kla ons net weer omdat kla kla is en dit makliker is om te kla as om die Grondwet deur te lees?
“Hoekom het ons dan so gehaas om vir Mbumba die septer in die hand te stop as dit alles heilig was?” Die groot antwoord – die ekonomie, my kind. Kenners het kort ná die oorgang gesê die vinnige intrede van regsprosesse en die vreedsame manier waarop dit gedoen is, het gesorg vir minimale ekonomiese skade en kon dalk vir Namibië ’n veertjie in die hoed beteken het.
Ek weet dis ’n moeilike begrip, maar soms is dinge soos hulle voorkom. Dit hoef nie altyd meer te wees as wat jy sien nie.
Hoekom was dit in elk geval nodig om te gaan krap vir redes hoekom Mbumba nie die president moet wees nie? Hy kan nie ’n diktator van homself maak nie – daarvoor sorg dieselfde wet waaronder hy ingesweer is. Hy kan seker probeer om die land tot op die grond af te brand, maar ek dink nie hy sou dit wou doen nie.
Laat Mbumba dít voltooi wat Hage begin het – ter ere van die laasgenoemde se nagedagtenis. Vir Hage Geingob, laat ons diep asemhaal en tot tien tel voor ons bobbejane agter die bult gaan haal. Ek dink dit is die minste wat ons vir hom kan doen.
En asseblief tog, as jy wil kla, maak eers seker van jou feite. In die geval van ons Grondwet, wat vrylik aanlyn beskikbaar is, is dit nie moeilik om die leeswerk te doen nie. As jy wil kla dat ’n boek buite konteks aangehaal is, maak darem seker dat jy die boek gelees het. As jy wil kla dat die boek dit nie gesê het nie, lees die boek van voor tot agter en maak seker.
Sodoende gaan jy of besef jy het geen rede om te kla nie, of jy gaan juis besef hoekom jy moet kla, maar hierdie keer met die argumente in jou agtersak om te sorg dat jou sienswyse ingelig is.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie