Andrew Poolman
Andrew Poolman

Wanneer reënboë die nuusstroom oorheers ...

Weet nie of jy ook so is nie? Maar ek hoor ’n alarm afgaan en die immuunstelsel begin stuur soldaatjies na die front die oomblik wanneer iemand (enigiemand, oor enige onderwerp) vir my begin preek.

Dan hoor ek in my kop die woorde van ’n meme (lees: mieeem) wat straks by meer as net ek aanklank vind ...

“Ek aanvaar geen opdragte nie; trouens, ek aanvaar beswaarlik eens voorstelle.”

Een van my persoonlike ingesteldhede die laaste tyd (dalk ietwat lomp vertaal) lui iets soos: “Die waarheid kan nooit vertel word nie. Oor die waarheid moet tot die besef gekom word.”

Dis blykbaar ’n aanhaling van ene Ralph Smart, beweer die soekenjin.

Hierdie ingesteldheid tot kommunikasie verg meer doelgerigte geduld en soms meer noukeurige woordkeuses. Ons almal weet daar bestaan dringende situasies waarin opdragte of inligting belangriker, of die meer gepaste opsie is as diep kommunikasie oor elke grys area. Vandag verwys ek nou nie na die dringende tipe situasie nie.

Ek hou vreeslik baie van aarbeie ... maar ek weet ook aarbeie is nie doeltreffend as aas vir visvang nie. Visse verkies blykbaar wurms, al is dit vir my ondenkbaar dat wurms enige wesens se bekke kan laat water.

Onthou, die spreekwoordelike voëltjie wat vroegoggend opstaan, vang die wurm. Maar gevalle is ook al aangemeld waar die tweede muis die hele kaas gekry het.

Die mensdom bly fassinerend en om beter te word in jou mensekennis en vaardigheid met verskillende persoonlikhede, sal altyd goeie loopbaanadvies wees. Verwelkom en verwonder jou aan die eienaardigheid van elke individu.

Persoonlike groei en ontwikkeling bly ’n immergroen idee. Soos ek iemand onlangs dit hoor stel het – as jy nie kan terugkyk na die soort mens wat jy vyf jaar gelede was en so ’n grillerige gevoel kry nie, het jy vyf jaar van jou lewe vermors.

Ek het ten volle begrip, eerstehands, dat die aanvaarding van vreemde idees ’n moeilike en selfs angswekkende ondervinding kan wees waarvoor jy dalk nog nie gereed is nie.

Met dit alles gesê: ’n vriendelike voorstel.

Moenie mense boelie wat “anders” is, of wat nie in jou “in” groep beweeg nie.

Mense wie se velle armer of ryker aan melanien as joune is, of selfs diegene wat heteroseksuele gedagtes koester of selfs die heteroseksuele leefstyl volg, kan niks aan hierdie feit verander nie ...

Leer om mense te aanvaar soos hulle is en waar hulle vandaan kom en weerstaan die instink om “jou minderes” te boelie wat geensins jou baan betree nie. Ons hoef nie mekaar op die mond te soen nie, maar ons kan nogtans mekaar se karakter waardeer en respekteer.

Namibië is ’n gasvrye land wat aan elkeen sy ruimte gun; dis waarvoor ons bekend is. Dis iets om op trots te wees en te koester.

Elke nuwe geslag is meer verdraagsaam as die vorige een. Rek die tydlyn nog ’n ent verder in die toekoms, en weet vir seker dat verdraagsaamheid sal triomfeer en dat selfs aangeblaaste haatspraak sal uitsterf.

Hou moed. Daar is lig in die tonnel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!