Wat soek jy?
Hester Steenkamp – Elke keer wanneer my boerman begin om laaie en kasdeure luidrugtig oop en toe te maak, sak my moed weg, want ek weet wat wag.
Dan vra ek uit ordentlikheid: “Wat soek jy?”
Eintlik wil ek nie weet nie, want wanneer hy iets soek, is dit gewoonlik al goed weg, ver weg en al lankal weg. En dit kan enigiets wees: Boudjies, wassers, spuitnaalde, lammertiete, fakture van die koöperasie, strokies van Spar, sy swart boekie met die skaapgetalle, sy hoed, die geel flits, die platpuntskroewedraaier, die maatband of staalspykers. Dalk boorpunte of die waterpas, ’n bankstaat, ’n permit of sy knipmes, wapenlisensie of die rantsoenkamer se sleutel. Noem dit, en dit was al weg.
Sommige goed vind mens makliker as ander. As sy selfoon byvoorbeeld weg is, skakel ek net sy nommer en luister fyn. Dit het wel al gebeur dat ons op en af in die veld moes ry en aanhou bel, want die foon het daar iewers verlore geraak, maar dis heel eenvoudig. Maar soms, wanneer hy sy duim en wysvinger so twee sentimeter van mekaar hou om te wys hoe klein die drie skroefies is wat hy soek, en wat hy laas maand gekoop het, sak my moed nog verder weg – deur my voete in die grond in.
Vir my is goed wat weg is soos ’n rooi lap vir ’n befoeterde bul. My ore begin sing en my vel begin kriewel. Ek raak soos ’n mal ding. Ek sien hoe vlieg my beplanning vir die dag by die venster uit, want ek sal nie rus voor die ding wat soek is, nie gevind is nie.
Ek sal soek tot ek later vir myself kwaad is. Ek begin by die mees waarskynlike plekke. Dan beweeg ek na die onwaarskynlike plekke toe en dan soek ek op die plekke waar ek voor my siel weet dit nooit sal wees nie. En dan begin ek weer voor. Maar ek hou nie op nie. Dit maak nie saak hoe laat dit in die nag raak nie.
Weg werk net nie vir my nie, want hoe kan iets net wegraak? As jy sê jy het dit net hier, net híér, neergesit, dan sal dit mos nog daar lê? Dan soek ek. Soms weet ek dit is beslis nie in die huis nie, want ek weet nogal wat in die huis is, maar die versigtige voorstel dat dit dalk in die skuur of stoorkamer is, word summier afgeskiet. Dan soek ek maar verder. En wanneer ek soms op die punt kom dat ek van pure uitputting moed opgee en vrede maak met die feit dat dit inderdaad weg is, verskyn dit uit die bloute. Gewoonlik uit die skuur of stoorkamer uit. Dan fluit my ore en gee ek net ’n meewarige glimlag.
Soms, net soms, raak goed regtig weg. Onverklaarbaar en onverstaanbaar. Soos weg-weg. Nes my silikon-knyper wat ek gebruik om warm potte mee op te tel. Ek het twee gryses gehad. Een het soos mis voor die son verdwyn. Jare gelede al. Ek het my moeg gesoek. Ek het die kombuis drie keer van hoek tot kant uitgepak en reggepak en weggeskuif en teruggeskuif, deur asdromme gekrap, by die braai gaan soek en in die skuur en stoorkamer gaan kyk, maar tot vandag toe is daardie knyper weg. Dit pla my nou nog, en ek het steeds die ander een. Ek het intussen vir my twee ander gekoop, groenes, maar daardie eensame grys knyper in die laai pla my elke keer as ek dit sien, en dan begin kriewel ek weer.
Ek moes al dikwels die vraag aanhoor: “Wat doen boervrouens heeldag?”
Gewoonlik het ek gevra hoeveel tyd het hulle, want ek kan hulle lank besig hou met die take wat ons elke dag verrig, maar ek het intussen my antwoord aangepas.
As iemand my nou vra, antwoord ek: “Ons soek.”
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie