Gerine Hoff
Gerine Hoff

Water, weer en meer

Gerine Hoff
Ek lees in gister se koerant oor Groot Aub se waterprobleme en hoe die regering na oplossings soek: Eerstens omdat die vraag na water uit boorgate oorskry word omdat daar té veel verbruikers is, en tweedens omdat dit al hoe meer besoedel word as gevolg van menslike en diere se aktiwiteite.

Ons mense kyk mos nie mooi na dit wat vir ons gegee word nie.

Ons lewe in ’n woestynland, so water was nog altyd ’n probleem. Daarmee saam, as mens so luister na die weerprofete, kan ons onsself regmaak vir ’n droë jaar (dankie sikloon Freddy en El Niño) en ons damme is veel leër as wat dit ’n jaar gelede was.

So gepraat van Freddy, die sikloon het verlede naweek vir ’n tweede keer groot skade en lewensverlies in Malawi, Mosambiek en Madagaskar veroorsaak, maar dit het ook die vog uit die lug in Namibië getrek. Meteoroloë meen die maandlange storm het ten minste al een rekord gebreek in terme van hoe lank dit al aanhou.

Maar water is nie net hier ’n probleem nie. Kalifornië – wat om die beurt onder droogtes en verskriklike veldbrande ly – word nou deur storms en vloedtoestande geteister. Dié storms peper die streek al van Desember af met sneeu, vloede, aardbewings en kragonderbrekings.

Wat gebeur met ons wêreld?

Maar terug na water. Met 22 Maart wat elke jaar herdenk word as Wêreldwaterdag, het die VN teen ’n dreigende wêreldwye waterkrisis gewaarsku en ’n “dreigende risiko” van tekorte weens oorverbruik en klimaatsverandering. Die organisasie sê die wêreld loop “blindelings ’n gevaarlike pad” van “vampiriese oorverbruik en oorontwikkeling”.

Sjoe, vampiriese oorverbruik. Dit klink rof.

Die VN se sekretaris-generaal sê water – “die mensdom se lewensbloed” – word gedreineer deur “onvolhoubare waterverbruik, besoedeling en ongekontroleerde aardverwarming”.

Dié stelling het gekom voor ’n driedaagse waterberaad wat gister begin het en waarheen duisende afgevaardigdes na New York gereis het. Ek wonder nogal wat is hulle “carbon footprint”, maar nou ja, hulle dink seker nie dááraan nie.

Die BBC berig dat die verslag, wat deur UN Water en Unesco gepubliseer is, waarsku dat “waterskaarstes endemies word” as gevolg van oorverbruik en besoedeling, terwyl aardverwarming seisoenale watertekorte beide gebiede met oorvloedige water en dié wat reeds “water stressed” is, sal verhoog.

Volgens navorsers bly ongeveer 10% van die wêreldbevolking “in gebiede wat hoë of kritieke waterstres ervaar”. Daarmee saam sê hulle dat tot 3,5 miljard mense ten minste een maand per jaar onder toestande van waterstres leef.

’n Nuwe VN-klimaatsverslag sê “ongeveer die helfte van die wêreld se bevolking ervaar tans ’n ernstige waterskaarste vir ten minste ’n deel van die jaar”, en Namibië tel daaronder.

Tog sê hulle in dieselfde asem daar ís genoeg water op die planeet as ons dit meer doeltreffend gebruik as wat ons dit oor die laaste paar dekades gedoen het.

En dit lesers, is die oplossing. Elkeen van ons gaan eenvoudig versigtiger met water en ons wêreld te werk moet gaan.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer