Yolanda Nel
Yolanda Nel

Watter kleur is die maan in jou droom?

Yolanda Nel
Vir iemand wat gereeld in haar slaap loop en praat, sorg my onderbewussyn elke aand vir ’n verskeidenheid van drome.

Soms weet ek presies wat ek in my drome aanvang, maar ek kry myself net nie gekeer nie. Ander kere word ek net moeg wakker en kan niks onthou nie. Terwyl ek met my meestersgraad besig was, het ek gereeld in die kombuis of sitkamer wakker geword, waar ek besig was om koerant te “lees”. Hoe lank ek daar gesit het, sal niemand weet nie. Die gevaarlikste ding wat ek nog ooit in my slaap aangevang het, was om die voordeur oop te sluit en vir my “gaste” in die deur te wag. Ek het daardie oggend half 4 wakker geskrik toe ek begin koud kry het.

Ek het jare terug gedroom iemand het my oorboord gegooi en net Hammelie wou my red. Sy het ’n tou vir my gegooi en ek het daaraan begin trek asof my lewe daarvan afhang. ’n Groot lawaai het my wakker gemaak. Ek was toe die heeltyd besig om aan die bedlampie se koord te trek.

Ek wou by Hammelie weet of ek vir ’n nuwe persoon in my lewe moet vertel ek loop en praat so in my slaap. “My kind, jy praat nie, jy gil kliphard,” het sy gelag. Maar sy reken ek sal eendag net ophou.

“Ek het opgehou toe ek getroud is,” het sy gesê, maar ek en Pappa Nel het beide amper verstik van die lag, want dít is ’n blatante leuen.

Toe ek jonger was, het Hammelie kort-kort in die middel van die nag van haar kleuterskool se kinders in my kamer kom soek. Sy het dan histeries geraak as sy hulle nie kry nie.

“Jy moet die duiwel van jou skouer afblaas, dis hy wat jou so in die nag jaag,” vertel my huishulp. Dan vra ek haar waaroor droom sy in die nag. In haar drome is die gras pers en die maan groen. Ek droom in swart en wit.

Volgens kenners het 75% van mense gesê hulle het voor kleurtelevisies hul verskyning gemaak het in swart en wit gedroom. Blykbaar droom net 12% van mense deesdae in swart en wit.

Die webwerf, Dreaming and Sleeping, sê talle teorieë dui daarop dat diegene wat in swart en wit droom, ’n traumatiese ondervinding in hul slaap ondergaan. Tog kan ek almal verseker dat ek nie elke aand ’n nagmerrie het nie.

Vir die groter meederheid wat in kleur droom, beteken die mees pertinente kleure in ’n droom skynbaar ook iets. Blykbaar as iemand blou in jou droom dra, beteken dit jou droom gaan waar word, terwyl groen aandui jy gaan iets ontvang.

Ander navorsers glo weer alle mense droom in kleur en indien ons nie dadelik kan onthou waaroor ons gedroom het wanneer ons wakker word nie, die droom en kleure tot ’n herinnering sal vervaag.

Ouvroustories sê as jy droom dat iemand doodgaan, iemand eintlik sal trou en omgekeer, maar dit klink bietjie vergesog.

Ek sal probeer onthou of daar ’n stukkie kleur in my droom te bespeur was. Dalk word my drome waar. Kom ons hoop dan maar net niemand gooi my weer oorboord nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!