Tanja Bause
Tanja Bause

Watter ouerskapstyl is op jou van toepassing?

Tanja Bause
Ek gesels die ander dag met iemand oor die verskillende ouerskapstyle. Beide van ons het probeer uitmaak waar ons ouers se opvoedingstyl inpas.

Daar is die sogenoemde helikopter-ouers wat konstant oor hul kinders se koppe vlieg.

“Helikopter-ouers is ouers wat baie aandag aan hul kinders gee, in ’n poging om hulle nie net teen pyn en teleurstelling te beskerm nie, maar om hulle te help om suksesvol te wees.

“Hulle is van kleintyd tot universiteit geneig om oormatig betrokke by hul kinders se lewens te wees, tot die punt waar hul eie belangstellings agterweë bly. Die maandelikse begroting draai dikwels om wat die kinders nodig het.” Dis die deskundiges se weergawe van dié ouerskapstyl.

Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat ons ouers se grootmaakstyl beslis hiervan verskil het.

Ek het in Port Elizabeth studeer en dit was die eerste keer wat ek alleen moes reis. Ek is onseremonieel by die lughawe afgelaai. My pa het ’n werkkollega in PE gevra om my by die lughawe op te laai.

My maandelikse sakgeld was nie iets om oor huis toe te skryf nie. Ek het ook nie elke vakansie huis toe gekom nie; ek het saam met vriende na hul huise gegaan. So het ek Suid-Afrika gesien, gestudeer en in een stuk ná my studies huis toe gekom sonder ’n vlieggeluid bo my kop.

Volgende kry jy die grassnyer-ouers.

“Dis die ouers wat enige hindernis afmaai wat hul kind mag teëkom. Dié ouers kan nie die gedagte verdra dat hul kinders enige ongemak of teleurstelling ervaar nie. Gevolglik doen hulle alles in hul vermoë om hul kinders te beskerm, soos byvoorbeeld om ’n e-pos aan onderwysers te stuur om oor hul kind(ers) se punte te stry.

Dit het ’n negatiewe invloed op die kinders se probleemoplossings- en besluitnemingsvaardighede, en skep onseker en soms selfs hulpelose kinders. Gevolglik, wanneer iets nie soos beplan verloop nie, val die kinders uitmekaar omdat hulle nog nooit teleurstelling ervaar het of toegelaat is om te misluk nie.”

Ek dink dié tipe ouerskap is die jongste styl, maar dit is ook nie my ouers nie.

My ouers glo daarin dat jy vir jouself moet opstaan en baklei, werk hard en deure sal vanself oopgaan, doen moeite en jy sal die vrugte pluk, hou op kla en jou omstandighede sal ten goede verander.

Sy sê toe dat ’n vrou in haar vriendekring gesê het haar seun klassifiseer vir haar en haar man as duikboot-ouers.

Volgens dié seun is dit ouers wat in die see rondduik en nou en dan na die oppervlak kom om te kyk of hul kinders nog oukei en in een stuk is en dan duik hulle weer terug in die water.

Ons het besluit hierdie styl klink die naaste aan ons ouers se opvoedingstyl, behalwe dat hulle nie net nou en dan kom inloer het nie. Hulle periskoop het talle kere deur die oppervlak gebreek, net om seker te maak dat ons nie dalk hulp nodig het nie.

Die hulp is nie afgedwing nie en daar is beslis geen onderwyser gebel nie, maar tog het jy die gevoel gehad wanneer jy hulp benodig, staan mamma- en pappabeer agter jou en bewaar die arme siel wat in jou pad staan.

My ouers het ons toegelaat om foute te maak, ons aangemoedig om op te staan, die stof af te skud en weer te probeer. Dit was nie ’n opsie om in jou kamer weg te kruip en jammer vir jouself te voel nie, want ons het so veel om voor dankbaar te wees en die lewe is daar om te geniet.

Ek het nie ’n naam vir my ouers sy opvoedingstyl nie. Ek weet net wanneer ek na ons drie kyk en na die sukses wat ons in ons lewe bereik het dat my ouers iets reg gedoen het en dit het nie ’n naam nodig nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!