Astrid O’Callaghan
Astrid O’Callaghan

Wees dapper en dra mekaar

Toe ons Ierland toe getrek het, was ons ongelooflik geseënd dat Ben (my man) ’n plek in die plaaslike tennisklub gekry het. Dit is skaars in ’n plek waar waglyste eindeloos is. Met sy talent het hy vinnig ’n gunsteling by die klub geword en naweke het gesinsuitstappies geword waar ons hom ondersteun. Dit is ’n wonderlike gemeenskap, en die kinders is mal daaroor om hul pa in aksie te sien.

Wanneer ek op die balkon staan en nie net na Ben se wedstryde kyk nie, maar ook die ander wat gelyktydig plaasvind, is daar een ding wat my altyd tref – die krag van spanwerk in dubbelspel. Maak nie saak hoe die wedstryd verloop nie, die spanmaats staan saam.

Wanneer een ’n fout maak en ontmoedig voel, is die ander net daar—met ’n vat vyf, ’n klop op die skouer of ’n paar bemoedigende woorde. Geen frustrasie, geen skuldgevoelens – net daardie onuitgesproke boodskap: “Ek het jou.” Selfs wanneer jy nie op jou beste is nie.

Elke keer as ek dit aanskou, stap ek weg en dink – hoe wonderlik sou dit wees as ons almal so sou optree? Vir ons vriende. Ons huweliksmaats. Ons kinders. Ons span by die werk.

Dit is maklik om te jubel wanneer dinge goed gaan, maar ware ondersteuning kom wanneer dinge moeilik raak; wanneer iemand struikel en ons nie wegstap nie, maar nader beweeg. Ons lig hul ken op en herinner hulle dat hulle nie alleen is nie.

Terwyl ek ons Be Brave-geleenthede vir Namibië vir Augustus beplan, het ek met Hykie Berg gesels oor vanjaar se tema en die boodskap wat ons wil oordra. Hy het my herinner aan iets wat my diep geraak het:

* Moenie wens dat dinge makliker was nie – wens dat jy beter was.

* Moenie wens vir minder probleme nie – wens vir meer wysheid.

* Moenie wens vir minder uitdagings nie – wens vir groter vaardighede.

En skielik het alles gekliek. Die lewe is soos ’n dubbelspel-tenniswedstryd. Wanneer dinge nie volgens plan verloop nie – op die baan, in die lewe, of by die werk – moet ons nie die uitdaging wegwens nie. Wens eerder vir die regte spanmaat. Die leier. Die vriend. Die persoon wat jou kroon regskuif en jou help om deur te druk, sodat jy sterker aan die anderkant uitkom.

Wees vandag daardie spanmaat vir iemand; en omring jou met mense wat dieselfde vir jou sal doen.



* Astrid is ’n Namibiër wat saam met haar man en twee jong kinders in Waterford, Ierland, woon. Sy is passievol oor vrouebemagtiging en geestesgesondheid. Dié rubriek is deel van haar Be Brave Monthly Glimmer-inisiatief waar sy elke maand haar gedagtes, ervarings en raad per e-pos deel.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-02-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer