Gerine Hoff
Gerine Hoff

Wees gegroet, Chandler Bing

Gerine Hoff
Friends-aanhangers is reeds sedert die naweek in sak en as oor die dood van Matthew Perry, en as ’n Friends-aanhanger was dit nogal hartseer om te lees.

Net nou die dag het ek, my man en kollegas nog aan ’n Friends-vasvra by The Wolfshack deelgeneem, waar die opkoms só groot en die kompetisie só straf was, dat hulle die vrae moeiliker moes maak.

Vir tien jaar het Chandler (of Chanandler Bong) en die res van die vriende ons in die 1990’s op die kleinskerm vermaak, en toe vir ons tot 2021 laat wag vir ’n reünie, wat toe heeltemal anders uitgedraai het as wat ons verwag het.

En nou groet Friends-vriende vir Matthew Perry én ons geliefde Chandler.

Dit het nie saak gemaak watter uitdagings Perry in sy persoonlike lewe moes trotseer nie, Chandler se spitsvondige one-liners en sy pittige sarkasme het Friends-kykers in elke episode laat skaterlag. Dit was en bly nog steeds vrek snaaks hoe hy die draaiboekskrywers se woorde op skertsende wyse oorgedra het.

In die sitcom het niemand regtig ooit geweet wat hy vir ’n lewe gedoen het nie, behalwe dat hy genoeg geld gemaak het om vir Joey vir minstens vyf jaar te onderhou en in ’n wolkekrabber gewerk het. Uiteindelik het dit aan die lig gekom dat hy in statistiese analise en data-herkonfigurasie gewerk het (onthou julle nog die WENUS-verslag?).

Chandler het ook heelwat catchphrases gehad: “Could I BE any more...?” wat hy gewoonlik gebruik het om sy sarkastiese observasies te beklemtoon.

Dan was daar staaltjies soos “I’m not great at advice. Can I interest you in a sarcastic comment?” – sy selfbewustheid oor sy onvermoë om goeie raad te gee was ’n herhalende tema in die reeks, wat ook duidelik was toe hy sê “I’m Chandler. I make jokes when I’m uncomfortable”.

En hoe lekker het ons gelag toe hy die kamer instap met ’n Cosmopolitan en aankondig: “Alright, I took the quiz. And it turns out I do put my career before men,” wat nog ’n laag humor by sy karakter gevoeg het.

Wie sal vergeet hoe hy vir Janice gesê het hy moet Yemen toe trek net om uit haar kloue te ontsnap, en sy hom tot by die lughawe vergesel om hom te groet, of hoe hy in Tulsa beland het omdat hy in ’n vergadering aan die slaap geraak het? Toe die groep vriende in Londen was, waar hy en Monica se verhouding begin en sy karakter meer volwasse geraak het, het Chandler op sy lip getrap oor Joey se ywer.

Eintlik, om die beste Chandler-episode van Friends te probeer kies, is soos om tussen die kuiken en die eend te moet kies; dis onmoontlik, want oor die 236 episodes het Chandler honderde skreeusnaakse oomblikke en elke Friends-aanhanger het persoonlike gunstelinge.

Wees gegroet, Friend.

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!