René Hugo
René Hugo

Wie dra die voorskoot?

Sanet Pearson
René Hugo – Sedert die tyd van Adam en Eva was die wêreld al vol oorloë. Sommige was hartverskeurend, party erg gewelddadig en ander – wel, interessant! Van laasgenoemde groep is die ewigdurende stryd tussen die twee geslagte sekerlik die vreemdste.

Die “huismoles-oorloë” toon ’n duidelike evolusionistiese ontwikkeling wat die “slagveld” betref. Die vroegste skote het natuurlik in die slaapkamer geval. Daarna het die oorlogsterrein na kantoorbestuur geskuif. En tans vind ons die moderne slagordes meestal in die kombuis.

So is daar daagliks ligte skermutselinge, maar soms ook hewige kanon-gebaseerde veldslae, rondom die stoof en wasbak.

Een van die algemeenste kombuisgevegte gaan om die gebruik en benutting van speserye.

Die manlike kombuissoldaat bestee dikwels ure voor die speseryrakke van spesialiteitswinkels. Dan daag hy tuis op met groot verpakkings van vinkelsaad, foelie, fenegriek en asafoetide. Hierdie geurmiddels beplan hy om te gebruik wanneer hy weer ’n “New York strip-steak” wil opdien. Of om oor ’n kosbare stuk Wagyu-steak te strooi. As alternatief sal hy die kruie aanpas by die eksotiese Marokkaanse wildebeespotjie wat hy gou aanmekaar wil slaan.

Aangesien hierdie soort vleise meestal nie onmiddellik beskikbaar is nie, word die speserye eksperimenteel by eiers, oor hoenderborsies en deur bobotie gestrooi. Die resultaat is soms mooi gekleurde groen eiers op roosterbrood.

Die vroulike kok sal, in teenreaksie, terugval op die vaal en vervelige gebruik van sout en witpeper. En ongelukkig skraps daarmee te werk gaan omdat sy, na bewering, die manlike ingrepe op die huisbegroting moet teenwerk. Die vroulike soldaat is nie besonder avontuurlustig nie – maar miskien meer ingestel op die gesin se gesondheid?!

Dan is daar ’n ander spesiale geveg: oor die gebruik van olies en botter.

Die manlike sjef glo dat gansvet die enigste ware medium is wat gebruik mag word om kos in te bak of te braai. By gebrek aan iets wat nie vrylik beskikbaar is nie, sal hy dan die heel spesiaalste, mees verouderde, maagdelikste (is so iets moontlik?!) olyf- of avokado-olie as plaasvervanger oorweeg.

Die vroulike kok gebruik ook olyfolie – wanneer daar nog ’n paar druppels oor is nadat manlief sy draai gemaak het. Maar meestal val sy sommer terug op sonneblomolie. Sy meen die doel van smeermiddels is om ’n pan te smeer; nie om ’n eksperiment oor die eksotiese waarde van gansvet teenoor botter saam te stel nie.

En dan is daar die beplanning van die spyskaart: ’n gevegsfront waar bloed kan vloei en hare waai.

Die deelnemers aan die manlike kant is gewoonlik nie sjefs nie, maar eerder die man wat graag ’n wakende oog oor sy vrou se pogings hou.

So ’n dag voor ’n groot geleentheid (soos ’n troudagviering) sal die eerste ware skermutseling begin. Met ’n hart vol verlange sal die manlike front veg vir dít wat vir hom lekker is. Sy versoeke kan insluit konsertina-aartappels en gebakte aartappels; pampoenkoekies asook natuurlik karamelpatats. Gebakte varkboud omring deur soetappels en kersies in ’n brandewynsousie is asseblief ’n moet. En dan het die stryd oor die nagereg nog nie eers begin nie...

Die geslagsgevegte op die kombuisterrein is tans ’n hewige en steeds vloeibare een. En die uitkomste is duister.

Henry Kissinger het beweer: “No one will ever win the battle of the sexes; there’s too much fraternizing with the enemy.”

Hy was waarskynlik reg. Ek kan my eintlik nie ’n beter slagveld as die kombuis indink nie – daar is so baie wapens beskikbaar om die bloed te laat vloei...

Of te stol. . .

Of te bruis. . .

– Gasskrywer – [email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!