Augetto Graig
Augetto Graig

Wie is jy?

Wie wil jy wees? Dit is die kernvraag van die lewe. Dit is die ervaringe wat ons almal moet deurmaak. Dit is die onderwerp van allerhande toetse en proewe wat jy sal moet deurstaan. Die vraag verwag ’n antwoord en as jy nie vir jouself die antwoord gee nie, sal die lewe dit vir jou beantwoord.

Die lewe sal jou in situasies sit waar jou antwoord beproef sal word. Dit sal jou redes gee hoekom jou antwoord nie reg is nie. Dit sal jou probeer dwing om jou idee van jouself te verander. Dit sal jou laat twyfel of verklik wie jy dink jy is.

Dink jy nou jy is slim? Die lewe sal jou wys. Dink jy nou jy is sterk? Die lewe sal jou druk. Dink jy dat jy opreg is, of regverdig is, of selfs net dat jy gelukkig is? Die lewe sal jou dan aspris ontstel. So smaak die lewe.

Daarom is dit so belangrik dat jy moet besluit presies wie jy wil wees, en dan om daarvoor te werk. Dit kos baie, maar dit is heeltemal die moeite werd. Dit is al manier waarop jy kan seëvier.

Sonder ’n duidelike en vasbeslote selfbeeld wat presies aandui wie en wat jy is, raak mens vinnig verlore. Die wind waai en die aarde draai en so verander omstandighede om jou idee te verduister van wie jy wil wees.

Is jy eerlik? Die lewe sal jou in ’n situasie plaas waar jok die ooglopende oplossing is. Is jy vriendelik? Die lewe sal jou tussen mense sit wat nie groet nie, mense wat jou nie menslik behandel nie, en dan sal ons sien of jy nog vriendelik sal wees. Dan sal ons almal sien wie jy werklik is.

Om so ontnugter te word, kan jou baie seermaak. Wanneer die lewe jou masker aftrek en jou voor jouself en die wêreld ontbloot, kan dit jou heel van die pad af stamp. Dit is op daardie oomblikke dat ’n mens op jou antwoord moet kan terugval. Onthou wie jy wil wees. Wees daardie persoon.

Moet nie toelaat dat die lewe jou rondwaai nie. Hou vas aan die selfbeeld wat jy vir jouself kies. Werk hard om daai selfbeeld uit te leef, en om werklik te word wie jy wil wees. Wanneer jy uiteindelik word wie jy wil wees, sal niks en niemand dit van jou kan wegneem nie.

Daarin lê jou krag om stewig binne die storms van die lewe te staan. Daarin lê sy vrede en jou vreugde. Binne die kennis van jou ware self en jou strewe om die mens te word wat jy wil wees, lê die insig en die wysheid om hierdie lewe reg uit te leef.

Met dit sal jy jou kop kan oplig en enige iemand in die oë kan kyk. Jy sal kan sê: “Ek is wie ek is. Wees lief vir my of los my uit.”

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer