Wie se taal is dit?
Ek woon hierdie week ‘n slypskool by oor wetenskaplike skryfvaardighede wat gesamentlik deur UNAM en die Universiteit van Stellenbosch aangebied word.
Dit word wel in Engels aangebied, maar elke nou en dan hoor (en praat!) ek Afrikaans. Dit maak my hart sommer baie bly. Daar waar my taal gepraat word, voel ek tuis. Maar elkeen van ons moet self besluit of ’n taal joune is of nie... of meer as een taal joune is... en of jy hoegenaamd ’n taal besit. Want dit wat ons s’n is, is ook ons s’n om te geniet en te versorg!
Taal is een van daardie wonderlike voorregte wat soos ‘n perfekte vrug daar is vir jou om te pluk. En jy hoef ook nie slegs een te pluk nie. En as een persoon ’n spesifieke taal gepluk het, is die taalboom nog swaar van dieselfde taalvrug wat steeds beskikbaar is vir ander om ook te pluk. Dit raak nie op nie!
Afrikaans behoort (in besonder in Namibië!) aan almal wat dit wil hê. Maar net soos met ’n vrug wat jy gepluk het, moet jy die moeite doen om dit te eet en deel te maak van jou wese, anders lê en verlep dit net, en sal dit nooit regtig deel van jou raak nie.
’n Paar deelnemers het vir my gesê dat hulle Afrikaans nie so goed is nie, maar hulle het dit in Afrikaans gesê, en het daarom juis weer (dalk vir die eerste keer in ‘n langerige tyd) ’n happie van ons soete taalvrug gevat. En elke sinnetjie verder, het die soetigheid vermeerder.
Die groot geheim is dat ons die gebruik van ons taal moet aanmoedig, en nie met besitlike kritiek die vrug uit ’n gespreksgenoot se hand probeer gryp nie. En nou klop my Namibiese hart warm, want ek hoor hoe Namibiërs gasvry ander toelaat om Afrikaans te geniet, selfs al skil sommige van ons eers die appel, en ander eet dit graag sommers met stronk en al.
Petronella F Genis
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie