Augetto Graig
Augetto Graig

Wie se waarheid?

Augetto Graig
Wie weet wat die waarheid werklik is?

Selfs dit waarvan ons oortuig is, gaan met die tyd tot niet. Die wêreld verander deesdae vinniger as ooit. Al die verandering maak mens skoon deurmekaar.

Dit is nou so maklik om heeltemal verlore te raak.

Dit voel soms of die een of ander duiwel gedurig op jou skouer tik – nou links, nou regs. Jou kop draai so erg dat jou nek begin pyn.

Mens ly so maklik aan daardie siekte waar jy nie kan duld om enige iets te mis nie. Ons aandag dwaal omdat ons so maklik uitgelok word, en vandag se lewe is vol lokvalle.

Skielik vind jy jouself vasgevang in ’n doodloopstraat met geen uitweg nie, of soms voel dit so. Die mure om jou stort inmekaar en die liggie van hoop flikker dof in die duister.

Moet dit nie glo nie. Dit is ’n klug.

Die son skyn steeds.

Die lewe gaan voort.

Hoop, soos geloof en nog meer, liefde, sterf nie sommer nie.

Hou vas.

Jy sal deur dit kom, as jy oorleef.

Dit is al uiteindelike oorlewende waarheid van die lewe: Hy gaan aan. Hy gaan aan met jou of sonder jou. En daarom moet jy opstaan en saamgaan, terwyl jy kan. Gaan aan met jou lewe. Gaan voort. Gaan verder.

Gaan soek jou eie waarheid. Gaan skep dit. Gaan stry met die lewe en kry dit onder jou beheer. Gaan dwing die lewe om jou te gee wat jou toekom. Gaan voluit.

Maar bly getrou aan jouself.

Bly by jou hart, by jou gewete, by jou menswees. Sonder jou meegevoel is daar geen oorwinning nie. Dit mag blink maar baie gesogte trofeë hou nie die tevredenheid in wat belowe is nie. Baie prestasies is nie die moeite werd nie.

Die waarheid is dat die lewe ’n gawe is. Jy verdien dit nie, al is dit jou geboortereg.

Dus moet jy die beste daarvan maak, net soos jy weet hoe. Dan moet jy leer hoe om dit beter te doen, beter te maak. Dan maak jy dit beter.

Maak dit nou beter.

Vat een tree op ’n slag. Doen eerste wat jy kan met wat jy het, daar waar jy is.

Begin by jou.

Daar sal jy ook moet eindig, en hoe beter jy dit by jou kan maak, hoe beter sal dit daar met jou gaan.

Moet nie vir die grap val nie. Jy moet kan saamlag.

Jy moet kan lekker lag, en glimlag, en met blink ogies die wonder van die lewe raaksien. Daar is wonder in die lewe. Daar is betowering, daar is “magic” in die lewe en soveel pragtige oomblikke. Daar is soveel wat die moeite werd is.

Dit is jou lewe. Dit is uiteindelik jou eie werklikheid wat jy moet deurkom.

Die enigste waarheid is jou eie waarheid.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer