Yolanda Nel
Yolanda Nel

Wink 2024 vir jou ook?

Yolanda Nel
Dis deesdae moeilik om opgewonde te raak oor ’n nuwe jaar.

Die afgelope paar jaar het ons gewys daai skoon blaadjie waarna baie van ons uitsien met die aanbreek van ’n nuwe jaar, beteken eintlik nie veel nie.

Die eerste Januarie gaan nie veel beteken vir mense in lande waar oorlog woed nie. Die koms van ’n nuwe jaar gaan nie die oorlog laat stop nie. Die moord en verwoesting sal voortgaan. Die absolute haat binne die mens, gaan nie weg nie. In hulle wêreld is dit nie amper Kersfees nie. Vir hulle is dit nie die begin van die einde nie.

In die nuwe jaar gaan die korruptes nie minder skelm wees nie. Hulle gaan nie hulle blaadjie skoonvee nie. Hulle gaan dalk voel hulle kan met meer wegkom. Dié wat wil moor en steel, gaan net dit doen.

Baie wonder in afwagting wat kan nóg gebeur? Ek sidder om te dink. Kan ons hoop dat die Here ons kom haal? Want wat is hier nou nog regtig om op aarde te bewys? Die generasie voor my maak geld soos bossies omdat hulle op sosiale media dans of foto’s van hulle voete neem.

Dan ontdek ek weer my lys van voorneme vir 2023. En alles is afgemerk. Vanjaar het ek myself ’n fighting chance gegee om dit reg te kry. Nommer 1 – word ’n bietjie ouer. Check. Nommer 2 – sit ’n bietjie meer en staan ’n bietjie meer op. Check. En alles wat daarna gebeur het, was ’n bonus en dit wat nie gebeur nie, dis nie ’n probleem nie, want dit was nie op ’n stuk papier neergepen nie.

Ek het vanjaar nog minder geoefen as die jaar voor dit. Ek het nog minder my huis in orde gehad. Maar, ek het met my kinders gespeel. Ons het geverf en gehardloop en vakansie gehou. Ek het vir hulle my gunstelingplekke in die Kaap gaan wys. Ek was hulle perdjie en hulle boom, as hulle wou klouter. As ons rofspeel, was ek hulle slaansak.

In 2023 was ek dokter, verpleegster, kok, interior decorator, entertainer en ’n honderd ander rolle op ’n honderd ander dae. Ek was ma. En vir hierdie jaar, was ma genoeg.

In die aande lê hulle lyfies by my, omdat ek hulle nog het. Omdat ek hulle nog kan vashou. En dan huil ek oor mammas wat nie meer hulle kinders kan vashou en koester nie. Mammas wat nie meer kan uitsien na eerstes nie. Mammas wat nou moet vasklou aan die laastes. ’n Laaste soen, ’n laaste drukkie, ’n laaste “ek is lief vir jou.”

Wie weet wat die nuwe jaar inhou. Hel, wie weet wat die volgende jaar inhou. Maar wees net teenwoordig daar waar jy is.

Ek sluit 2023 dankbaar af. Dankbaar vir ’n werk terwyl die realiteit daar buite beroerd lyk vir enigiemand wat die werksmag wil betree. Dankbaar dat ek ma kan wees, al is my sitkamer vol speelgoed en my vloere altyd taai. Dankbaar vir die dak oor my kop en my tweedehandse wiele – want daai wiele ry nog. Dankbaar vir hierdie lewe, want vyf jaar gelede was alles wat ek vandag het, net ’n droom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!