Winter is nie vir sissies nie
My lewe was soveel makliker toe ek jonger was.
Ek praat nie daarvan om net na myself om te sien nie, of nie bekommerd te wees oor die verantwoordelikhede wat ek vandag het nie. Hoe draai mens die horlosie terug? Ha-ha, I wish.
My probleem is hoe ouer ek word, hoe minder funksioneer my liggaam se ingeboude “termometer”.
In die somer kry ek vrek warm (gelukkig het die hot flushes my nog nie getref nie), maar in die winter kry ek weer erg koud.
Almal lag altyd vir my as ek sê die koue kom van binne. Ek sukkel om die gevoel te beskryf. Dit voel behoorlik of my liggaam (veral my bene) ysblokke word. Ek kan tien stelle klere aantrek en ’n klomp komberse oor my gooi, dit verander nie my liggaamstemperatuur nie. Die ysblokke bly ysblokke.
Ek glo daar is ’n goeie rede hiervoor – ek het net op die oomblik nie die hulpbronne om deur al die toetse en drama te gaan om die kernoorsaak te identifiseer nie. Soos die Engelse sê, nou “suffer” ek in “silence”. Ek dink wel nie my gesin sal met die “silence” saamstem nie.
Van die begin van die winter af trek ek elke dag ’n klomp stelle klere aan om my teen die natuur se elemente te beskerm. Dan sien ek my twee seuns wat somersklere dra. Dit voel vir my hulle het nie die memorandum gekry dat dit nou amptelik winter is nie. Ek moet hulle soms dwing om net ’n baadjie aan te trek, anders kry ék nóg kouer.
Ek reken alle ma’s gaan deur dié fase wanneer hulle kinders nog klein is. As die ma koud of warm kry, neem sy outomaties aan haar kind voel dieselfde.
Dit neem my terug na my kinderdae in Johannesburg. Ek kan nie onthou of ek toe ek jonger was ooit so braaf was om somersklere in die winter te dra nie, want Joburg kan behoorlik koud raak. Ek onthou hoe ons in die oggend ons skoolklere oor die asbesverwarmer gegooi het net om ’n paar oomblikke, wanneer jy jou skoolklere aantrek, warm te kry. En kom ons wees nou eerlik, skoolklere is nie van die warmste klere wat daar is nie.
Wat vir my die lekkerste was, was om koue water in die aande of vroegoggend uit die kraan te drink. Die water het soos heuning geproe. Ek maak altyd die grap dat ek mal is oor Johannesburg se water, want dit proe na iets. Ek het later, toe ek bietjie verstand begin kry het, begin wonder wat het die “smaak” aan die water gegee. Dis miskien beter as ek nie te diep hierop ingaan nie.
Ek het al aanvaar dat my termometer-probleem maar met ouderdom gepaardgaan, net soos geheueverlies en al die ander dinge wat ná 50 met jou liggaam gebeur.
Gelukkig is ons woonstel redelik warm, maar deesdae dink ek twee keer as iemand my vir ’n braai in die winter nooi.
Winter (of oud word) is nie vir sissies nie.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie